top of page

Landloopatlete l’at loop

  • Moné Rossouw
  • Jul 30, 2018
  • 2 min read

Te danke aan hul harde werk en ure se oefening, het ons Helpie-landloopatlete in die afgelope termyn tydens die 2018 Gauteng-Interskole-landloopliga uitstekend gevaar.

Die Gauteng-landloopliga is in 3 streke, naamlik Noord-Gauteng, Sentraal-

Gauteng, asook Suid-Gauteng opgedeel. Elk van die streke het 15 skole wat dus ‘n totaal van 45 deelnemende skole in Gauteng is. Die senior dogters, asook die junior seuns en -dogters het in hul onderskeie ouderdomsgroepe die Sentraal-Gauteng liga gewen. Dit is ‘n besonderse prestasie, aangesien daar teen baie groot skole gekompeteer word, onder andere: Afrikaanse Hoër Seuns- en Meisieskool, King Edward VII School, Jeppe High, Parktown Boys’ High, Pretoria Boys High School en nog vele ander.

Michaela Murat in aksie in Dobsonville, Soweto, tydens 'n klubbyeenkoms. Foto geneem deur Ethan Murat.

‘n Totaal van 24 van ons atlete is gekies om aan die Interdistrikte-finaal deel te neem. Na die interdistrikkompetisie sal ‘n verdere individuele- en spankompetisie wat tot die jaarlikse Interskole-kompetisie in Augustus opbou, plaasvind. Hier kan atlete kwalifiseer om aan die Suid-Afrikaanse-skolekampioenskappe vir hul provinsie deel te neem. Daar is egter ook van ons atlete wat aan Klublandloopligas deelneem. Hierdie liga duur voort tot en met September en atlete kan tot op nasionale vlak meeding.

Langasem Michaela Murat is een van net 24 langafstandatlete wat genooi is om vanaf 23 tot 25 Junie met professionele atlete soos Elana Meyer en Nolene Conrad skouers te skuur. Hierdie atlete is geoormerk om die toekoms van Suid-Afrikaanse langafstandprestasies te verseker en Michaela kon by bekende afrigters soos Ernie Gruhn en ander sportfundi kers opsteek. Nie net is Michaela ‘n kranige Helpie-atleet nie, maar sy het ook ‘n bekende naam in die Enduracad-kringe geword. Sy is beslis ‘n meisie om dop te hou.

“Helpie Guts,” is die woorde wat mnr. Dean Alberts gebruik om te beskryf wat landloop is. Hierdie is ‘n moeilike en uitdagende sport wat ‘n hele paar verrassings vir onderskeie ouderdomsgroepe bied. Dit is egter nie net vir die langasems nie, maar dit is ook vir die avontuurlustiges en die met ‘n liefde vir die natuur.


Kommentare


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page