Oorleef jou eksamens
- Chanell Landman
- Nov 12, 2018
- 1 min read
Ongelukkig is dit weer die tyd van die jaar wat mens eerder wil ignoreer. Daardie vloekwoord: eksamen. Ons benodig motivering en ‘n paar wenke om dit te oorleef.
Ons hoor dit elke dag by elke onnie, maar om vroegtydig te begin leer is noodbelangrik. Maak opsommings vroegtydig sodat stres tydens daardie pynvolle paar weke verminder kan word. Tog weet alle Helpies dat daardie droom nooit bereik gaan word nie.
Helpmekaar se webtuiste, “E-Skool”, is ‘n skatkis vol ou vraestelle. Benut hierdie goudmyn, want dalk is jy gelukkig en skryf jy daardie vraestel waarin ‘n vraag van ‘n vorige jaar voorkom.
Volgende is daardie sin wat ons elke dag 500 maal hoor: “Kom by ekstraklasse uit!” Helpies is geseënd met hardwerkende onnies wat hulle persoonlike tyd sal gebruik om vir jou werk te verduidelik omdat jy in die klas gedagdroom het oor die heerlike hoenderrepies by die snoepie.
Maak seker dat al jou notas in jou lêer is en nie, soos baie van ons, op jou foon se foto-album nie. Hou jou battery vol deur vroeg te gaan slaap en nie middernag die aand voor die tyd nog die definisie van ‘n pleonasme op te sê nie.
Sit skouer aan die wiel en leer hard vir die eksamen. As daar geen ander motivering is nie, maak ‘n sjokolade alles beter.
Comments