Kabaal & Kuier by die KKK-Fees:
- Cara Kotze
- Oct 31, 2018
- 1 min read

Op 25 en 26 Oktober was Helpmekaar die kern van kosmaak, klets, kuier en kompeteer by hierdie jaar se Kuns, Klank en Kaviaar (of altewel KKK) -fees. Die tema “karnaval” het die gewone Helpie-skooldag met ryke kultuur en kuier opgetower. Dié kunstefees sluit ontwerp, skilder, musiek, sang, dans en kosmaak in.
Die fees het Donderdag afgeskop met die kolwyntjie- en toebroodjie kompetisie gedurende tweede pouse. Talle Helpies het deelgeneem, terwyl die res van die volk gesmul het aan die versnaperinge wat hulle in die hande, en monde, kon kry.
Vrydagoggend het begin met “Net Nog Een”, ons verstommende tienertoneel. Daarna het elke graad na verskeie bestemmings in Johannesburg vertrek. Die graad 8’s het gewapen met handskoene en swartsakke die Botaniese tuine in Emmarentia opgeruim, die grad 9’s het die Westcliff-trappies verken en die grad 10’s het die Walter Sisulu-botaniese tuine in Roodepoort besoek. Vanjaar het die graad 11’s die Konstitusionele Hof verken.


Na afloop van ‘n produktiewe warm oggend in die son, het die hele skool in die swembad gespring. Afgekoel en opgewonde het die Helpies op die swembadpaviljoen vergader om die Plastiek & Prada-modelle en -ontwerpers in hul spoggerige uitrustings aan te moedig.


Terwyl die modelle die loopplank betree het, het die X-faktor-deelnemers ons met sang en dans vermaak.





Die dag het met ‘n goue noot geëindig toe die Goldenboys van Juffrou Mia afskeid geneem het met hul verrassingsoptrede.
Comments