Hoog tyd?
- Anja Steyn
- Nov 14, 2018
- 2 min read

Op 18 September 2018 is die private rook en kweek van dagga in Suid-Afrika gewettig.
“Dit gaan voortaan nie ‘n strafregtelike oortreding wees vir ‘n volwassene om dagga te gebruik of in hul besit te hê in (enige) private ruimtes nie,” het die hof beslis. Die uitspraak het nie beslis hoeveel gram dagga ‘n persoon mag besit nie.
Alhoewel die uitspraak toejuiging ontvang van onder andere die Daggaparty, is daar ‘n nuwe bekommernis wat onder ouers kop uitsteek: hoe sal die hersiene daggawet tieners beïnvloed?
Die South African Medical Association (SAMA) en die South African Society of Psychiatrists (SASOP) het aangedui hul is bekommerd oor die negatiewe effek op ‘n samelewing wat reeds met dwelmverslawing sukkel. Volgens ‘n verslag deur die Universiteit van Michigan se Instituut vir Sosiale Navorsing gebruik 24% van tieners in Amerika dagga. Verder raak 1 uit 6 tieners wat met dagga eksprimenteer, verslaaf daaraan. Tieners is dus vatbaar vir verslawing.
Volgens dr. Michael W. Smith, in ‘n artikel op webmd.com, kan die gebruik van dagga angstigheid, depressie, selfmoordgedagtes en ‘n verhoogde kans op ‘n hartaanval aanhelp.
Daar is egter bevind dat, uit die 29 state in Amerika waar daggagebruik wettig is, die gebruik van dagga nie toegeneem het vandat dit gewettig is nie.
‘n Misverstand wat ontstaan rondom die wetgewing, is die feit dat dagga slegs in privaat gebruik mag word. Raylentia Simmons, adjunkredakteur van Kuier, sê dat mense nie die woord “privaatgebruik” verstaan nie en het sy eerstehands beleef hoe mense dagga in die publiek benut.
Die effek wat die hersiene daggawetgewing op Suid-Afrika sal hê is steeds onbekend, maar dit is belangrik om van die moontlike implikasies wat dit kan inhou te onthou.
Comments