top of page

Wipballe slaan honderdtalle

  • Marco van Staden
  • Mar 28, 2018
  • 2 min read

Helpmekaar se krieketspanne het rede om aan die einde van die 2017/2018 seisoen breed te glimlag. Verskeie seniorspelers het honderdtalle teen ons opponente aangeteken: Ruben Eksteen, Ruan Timmers, Keune Kirkham (192), Neil Eksteen (drie honderdtalle!) en William Brooks. Frans Weideman het as bouler van die eerstespan uitgestaan deur 5 paaltjies vir 2 lopies te neem; waarvan drie paaltjies ‘n driekuns was!

Die o.16-span, o.l.v. Mnr. Phillip, het die seisoen onoorwonne afgesluit deur tradisionele “krieketskole” soos St. David’s, St. Benedict’s en Transvalia oortuigend te wen. Die span het ook soms benoude oomblikke beleef: hulle het Trinity College op 20 Januarie naelskraaps met 1 paaltjie gewen en op 22 Februarie teen St. David’s met net 1 lopie geseëvier.

Volgens Mnr. Phillip kan sy span se sukses toegeskryf word aan die dinamiese talent van dié ouderdomsgroep en die feit dat elkeen sy spesifieke rol in die span na die beste van sy vermoë vervul het. “Daar was geen swak skakel in die ketting nie,” het die trotse afrigter met sy spannetjie gespog.

Ons eerste krieketspan het ook vir ‘n opwindende seisoen gesorg. Volgens die afrigter, mnr. Willie van den Berg, was die St. Albans-toernooi beslis ‘n hoogtepunt vir die span. Die Helpies-elftal het hier teen die twee beste skole-krieketspanne van Zimbabwe, St. John’s en Falcon College te staan gekom en gewen!

“Ons het hierdie jaar nie net as ‘n span saamgespeel nie, maar ook as vriende,” sê Eugene Maritz (graad 12), kaptein van die eerste krieketspan. Eugene is dit eens dat die positiewe “vibe” onder die eerstespanspelers bygedra het tot hulle goeie uitslae. Net soos Mnr. Phillip glo hy dat ‘n span sukses behaal as elkeen net doen wat hy moet doen. Sy raad aan die juniors is dat spelers moet weet dat die regte gesindheid ten alle tye vereis word, ongeag van ‘n oorwinning of nederlaag.


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page