Skaakspanne skitter
- Eduan Beukman
- Mar 27, 2018
- 1 min read

Soos oudergewoonte het Helpmekaar se skaakspan weer geskitter tydens die jaarlikse junior skaakliga. Die Noord-Wes Johannesburg-liga is bekend vir sy strawwe kompetisie, nietemin was daar ‘n oorgawe van entoesiasme en Helpmekaar kon ‘n A- en B-span inskryf.
Vanjaar het Helpmekaar verál goed gevaar, met albei spanne wat al hulle wedstryde gewen het. Jacques Malan (graad 9-leerder en A-span bord 1) het ook vroeër die termyn ‘n uitstekende prestasie behaal toe hy 4de by die strawwe Trinity Little Falls-toernooi geëindig het.
Alhoewel skaak as ‘n meer alternatiewe sport beskou word, is dit duidelik dat dit vlam gevat het onder Helpmekaar se junior leerders. Weens die groot belangstelling moes daar eers proewe gehou word voordat die spanne gefinaliseer kon word en daar was ook per span ‘n reserwe of twee. Proewe vir die senior spanne is op 19 Maart gehou. Hulle seisoen skop eersdaags af.
Dit was die bekende skrywer Ralph Charell wat gesê het: “Vermy die samedrom, doen jou eie dinkwerk onafhanklik. Wees eerder die skaakspeler, as die skaakstuk.”
Comentaris