e-Sport stof rekenaars af
- Shane Lotriet
- Mar 27, 2018
- 2 min read
Rekenaarspeletjieliefhebbers het beslis iets om na uit te sien vanjaar, want e-Sport het uiteindelik sy verskyning op die lang lys van aktiwiteite wat deur Helpmekaar aangebied word, gemaak. Soos wat tye aan beweeg in ‘n era van tegnologiese vordering en belangrikheid, is dit vanselfsprekend dat die definisie van sport, saam met baie ander dinge, ook kan verander. Dit is presies wat mnr. Sean Barber en sy e-Sport spanne besig is om te doen.

e-Sport behels aanlynrekenaarspeletjies wat in spanverband teen ander spanne gespeel word. Die speletjies wat die spanne gebruik om mee te kompeteer is onder andere CS GO (Counter Strike Global Offensive) en League of Legends. Mnr. Sean Barber, onderwyser en stigter van e-Sport by Helpmekaar, meen dat die idee agter dié inisiatief ontstaan het toe die Helpies as gevolg van hulle genot tydens die LAN-aande by Helpmekaar hulle begeerte aan hom bekend gemaak om rekenaarspeletjies as ‘n kompeterende sport te beoefen. Dit het nie op dowe ore geval nie en dus die ontstaan van e-Sport.
Daar word dikwels koppe gestamp oor die feit dat party mense kompeterende rekenaarspeletjies as ‘n sport sien, maar volgens mnr. Barber
, is hierdie tipe rekenaarspeletjies voordelig vir ‘n individu op skoolvlak. Dit vereis strategiese denke en leer jou boonop ook hoe om optimaal in ‘n span te funksioneer, nes die ander gewilde spansporte, alhoewel jy ‘n stywe nek en seer vingers kry, in plaas van die tradisionele gips op die arm en ‘n blou oog.
Baie Helpies is opgewonde oor die voorsiening vir ‘n wyer spektrum van mense wat e-Sport maak. Beide atletiese en nie-atletiese mense kan hierin uitblink, wat dit ‘n baie meer inklusiewe aktiwitiet maak.
“[e-Sport] is fantasties, want dit vervul my begeerte om rekenaarspeletjies te speel én dit hou my kompeterende persoonlikheid tevrede. Dis beslis ‘n aktiwiteit wat meer erkenning moet kry,” sê ‘n Helpie opgewonde.
Comentários