Die kern van Helpie-wees
- Klaus König
- Mar 28, 2018
- 2 min read

Voel jy soms soos 'n papgedrukte perske? Asof jy van alkante af gekneus word deur druk, verwagtinge, bedrywigheid? Asof jy versap word in 'n genadelose masjien en daar niks van jou gaan oorbly nie? Die oplossing is eenvoudig: klou aan jou Helpie-kern.
As 'n mens 'n perske middeldeur sny, sien jy verskillende lae. Daar is die helder kleure van die skil – die vrolike Helpie-gees van samesyn. Dis Valentynsweek, geesvang, Produksie, "crazy Friday", KKK-fees. Dis pret en plesier, dis lag en lekkerte.
Die tweede laag is die "vleis" van die perske – die sappige, eetbare deel. Dit is die voedsaamheid van goeie onderrig en gesonde vriendskappe. Ons deel in mekaar se kennis en mens-wees, ons werk hard omdat ons die beste wil maak van ons geleenthede, ons groei omdat ons omgee vir mekaar en omdat ons 'n verskil wil maak.
Die pit van 'n perske is kliphard. Dit is Helpie-karakter, Helpie-moed. Dit is vasbyt en deurdruk, al is daar soms genoeg rede om moeg of moedeloos te voel. In die ou dae is perskepit gebruik om duursame vloere te maak en ook miniatuur-kunswerkies te kerf. Hierdie kern is wat ons sterk maak sodat ander op ons kan reken. In die hart van elke perske is daar die unieke moontlikheid van iets besonders.
En tog is dit nog nie die laaste laag nie. Binne-in die pit lê die saad. Helpmekaar is ons plek. Dit is waar ons groei tot volwassenheid. Maar tog eindig jy nie hier nie, Helpie, Helpmekaar is net die begin. Jy gaan elders wortelskiet en groei. Jou eie idees en werkkrag en kreatiwiteit gaan vertak en nuwe vrugte vorm.
Só gaan jy met jou Helpie-hart die wêreld 'n beter plek maak.
Comments