Welpies versterk die ketting
- Anja Steyn
- Mar 27, 2018
- 1 min read

Op 8 Januarie 2018 het 229 Welpies hul reis as Helpies begin. Elke Welpie het kaalvoet die skool binnegestap vir die eerste tree op pad na hul inhuldiging as volwaardige Helpies.
Die ontgroeningsweek het ‘n oorlewingstema gehad. Die Welpies is aangemoedig om nie net te oorleef nie, maar om te streef. Soos elke jaar is daar van die nuwelinge vereis om verskillende items byderhand te hou, waaronder ‘n helder oranje hoed, ‘n bord in die vorm van ‘n kompas en ‘n “knapsak“ gevul met oorlewingsitems. Dit het gemaak dat die Welpies onmiskenbaar was toe hulle die alombekende “wurm-liedjie” gesing het terwyl hulle probeer om nie die Helpie-ketting te breek nie en stip na die grond kyk.
Op 10 Januarie het die skool vir die res van die Helpies hervat. Die Welpies het die volk gretig verwelkom tydens die eerste saalopening. Dit was egter nie die einde van hul oriëntering nie. Pouses het die Welpies aan verskeie aktiwiteite deelgeneem, waaronder die “Amazing Race”. Donderdag het die groentjies ook ‘n piekniek saam met hul matriek-buddy geniet.

Die dag van die Welpies se inhuldiging het uiteindelik aangebreek en die opgewondenheid van die graad agts was duidelik. Vrydagaand se groentjiekonsert, Gekoek, geskryf deur Milandie Viljoen (Gr. 12) was ‘n reuse sukses. Die nuwelinge het gewys dat hul talent het as dit kom by toneelspel. By die inhuldiging het die Welpies met entoesiasme hul basher of pet opgesit. Hulle is nou ware Helpies.
Comentarios