Parate graad 8’s skakel in
- Danielle Brink
- Mar 27, 2018
- 2 min read

Om 06:00 die oggend van 10 Februarie het 230 leerders na die jaarlikse graad 8-kamp, ook bekend as die Paratus-kamp, vertrek. Die kamp is hierdie jaar by Sediba Kwêle Adventure Camp, net buite Brits aangebied.
Die doelwitte van hierdie kamp is dat die leerders hulself en mekaar beter leer ken, kommunikasie-vaardighede aanleer en om hul plek in die res van die Helpie-ketting se samestelling te vind.
Twintig onderwysers het saamgegaan en almal het ‘n rol gespeel om die kamp se doelwitte te bereik. Daar was byvoorbeeld ’n "speed dating"-sessie waar die leerders ’n minuut gehad het om hulself aan iemand anders voor te stel en om uit te vind oor die ander persoon. Meneer Eugene het ’n "Helpie-guts"-sessie aangebied waar hy oor al die Helpie-tradisies en -waardes gepraat het. Juffrou Mia het ’n sessie aangebied oor basiese debat- en redevoeringvaardighede.
Die kinders vertel dat juffrou Olwyn se sessie definitief ’n hoogtepunt was. Haar aanbieding het gegaan oor "mindfulness", met die tema: "Mindful, or mind full?" "Baie keer is ons nie heeltemal "hier" nie. Mens se gedagtes is gewoonlik besig met ander goed, veral met die verlede of stres oor die toekoms," vertel juffrou Olly. Wanneer mens nie ten volle "teenwoordig" is nie, loop mens soms belangrike oomblikke mis. Om "mindfulness" prakties te maak het juffrou eers die leerders laat stil sit, en laat stil raak, met hul oë toe. Sy het hulle weer bewus gemaak van al hul sintuie, ruik, hoor, voel… Nog ’n beeld wat sy gebruik het, was om vir elke leerder ’n lietsjie uit te deel met die opdrag dat hulle die vrug so stadig as moontlik moet eet, elke oomblik inneem en waardeer.
Juffrou Annemarie is opgewonde om die nuwe graad se "mamma" te wees. "Hulle ondersteun mekaar alreeds en vorm ’n hegte eenheid," sê sy.
Wannneer daar ’n nuwe skakel by ’n ketting gevoeg word, moet daar seker gemaak word dat dit sterk is, en sy doel ook onder druk kan dien. Met die Paratus-kamp agter die rug, kan die Helpie-ketting gerus wees oor die nuwe graad 8-byvoeging. Hulle is paraat, hulle is sterk en hulle is nou gereed. Die Helpie-ketting breek nooit.
Comments