Meneer Hannriël Coetzee: Van die doellyn tot die witbord
- Karla Jonker
- Mar 27, 2018
- 2 min read


Stut van formaat en ambisieuse IGO-onderwyser, meneer Hannriël Coetzee, sluit hierdie jaar by die Helpie-familie met groot verwagting en opgewondenheid aan. Hy het besluit om die basis waar hy werk te vergroot deur wys te word op die rugbyveld sowel as in die klaskamer.
Meneer Hannriël is steeds aktief betrokke by sy groot passie, rugby. Hier by Helpmekaar rig hy die o/14-span af en ook kinders van alle ouderdomme by ‘n rugby-akademie. Hy self het al groot sukses behaal op die rugbyveld. In 2012 het hy saam met sy Noordvaalspan in Italië en Frankryk getoer. Hy was in 2013 en 2014 die eerstespan-rugbykaptein van Hoërskool Hans Moore en in 2014 het hy vir die Valke Cravenweek gespeel. Hy speel ook tans klubrugby. As afrigter is die doelwit vir sy span om die Virsekerbeker te wen. Tog is sy groot begeerte en eerste prioriteit om seker te maak dat die span hulself geniet, want wanneer hulle hulself uitleef en as ‘n span saamspeel, sal hulle sukses behaal.
Aangesien hy vanjaar ‘n beginner-onnie is, vind hy dat dit ‘n groot aanpassing is, maar hy skroom nie vir die uitdaging nie. Sy strewe as onderwyser is om dieselfde liefde wat hy vir sy vak het, ook by die leerders te kweek. Meneer Hanriel werk graag met kinders en daarom pas onderwyser-wees hom soos ‘n handskoen. “Die verskillende maniere waarop kinders optree as gevolg van hulle agtergrond en blootstelling, inspireer my om ook so nederig op te tree al het ek nie daardie agtergrond nie. Jy kan baie by kinders leer” sê hy. Hy geniet die blootstelling aan verskeie vaardighede en diversiteit van die leerders in sy klaskamer.
Meneer Hannriël geniet die afwisseling tussen die klas en die rugbyveld. In die klas is die onderwyser en die studente heeltemal op hul eie. Die onderwyser moet self ‘n les voorberei en weergee en die kinders moet self werk, leer en toets skryf. ‘n Mens kan in die regte rigting gehelp word, maar tog is jou aksies jou verantwoordelikheid. Op die rugbyveld is jy deur en deur afhanklik van die spanlede langs, voor en agter jou.
Meneer Hannriël is ‘n harde werker met besondere geesdrif. Hy is ‘n voltydse onderwyser en afrigter en is tans ook ‘n ingeskrewe student. Die werk is baie, maar so ook die geesdrif.
Ben Sweetland het gesê “Sukses is ‘n reis, nie ‘n bestemming nie”. Volspoed, met die regte houding is hoe meneer Hanriel Coetzee hierdie reis aanpak. Suksesbehep is hy beslis!
Comments