Hou net aan, musiek is die moeite werd
- Aleida de Bruyn
- Mar 27, 2018
- 3 min read

Spoegwolf is ‘n alternatiewe Afrikaanse rockband. Die vier lede van die groep is Danie du Toit (hoofsanger, liedjieskrywer, kitaar, mondfluitjie), Chris von Wielligh (elektriese kitaar en klavier), Albert van der Merwe (baskitaar en stem) en Moskou du Toit (dromme en stem). Hulle het die band in Februarie 2012 gestig. Chris en Danie het in Januarie 2012 op ‘n reis na die Transkei die naam uitgedink. Dit beteken nie regtig enige iets nie, maar dis ‘n naam wat lekker op die tong lê. Hulle het drie albums vrygestel naamlik Swaartekrag, Somer en die Donker Toring.
Hulle kom al vier van die Paarl af en dit laat mens wonder hoe vier musikante mekaar as klein seuntjies vind? Chris antwoord hierop dat hy dink dat musikante ‘n manier het om mekaar te vind. Danie en Moskou is broers en Chris en Albert was vriende van hulle. Hulle het aan Paarl Boys High gematrikuleer. Danie en Albert was in dieselfde graad, Chris een jaar na hulle en Moskou een jaar na Chris. Hulle was almal by baie aktiwiteite betrokke op hoërskool, maar musiek was hulle grootste passie. Hulle was almal by verskeie musiekprojekte betrokke op skool. Hulle het na ‘n verskeidenheid van musiek op skool geluister, maar ‘n groot invloed op hulle was die 60s Engelse rockband, Pink Floyd.
Nie een van hulle se ouers is musikante nie, maar hulle is blootgestel aan goeie musiek in hulle ouerhuise. Hulle het nie baie musiekopleiding op skool gehad nie, net Chris het bietjie klassieke klavier geneem. Die lede het hulleself leer speel en meestal self die instrumente bemeester. Die hele band is betrokke by die skeppingsproses van liedjies en hul albums.
Danie skryf die lirieke en musiek waarna die hele band die musikale verwerkings doen. Chris is baie betrokke aan die produksiekant van die finale produk. Sy persoonlike gunsteling Spoegwolf album is “Die Donker Toring”, maar hy sonder ook die eerste luister van die finale produk van die album “Swaartekrag” uit as ‘n baie spesiale oomblik.
Chris antwoord diplomaties op ‘n vraag of iemand vetoreg het as hul ‘n meningsverskil het: “Ons almal het sterk opinies wat baie goed is vir enige kreatiewe proses. Dit maak dat mens almal se idees probeer en uitkom by 'n plek waar jy nie noodwendig op jou eie sou nie.” Hul teikenmark is moeilik om te definieer en hulle probeer nie musiek maak vir 'n spesifieke gehoor nie. Hul tipe optredes en geleenthede waar hul optree verskil van mekaar en aanhangers strek van jong kinders tot 50 jaar en ouer. Die baie reis kan soms uitputtend raak - mense by lughawens is baie selde vriendelik. Chris dink nie hul sal sommer moeg raak vir optree nie, “elke show is 'n nuwe ervaring en die songs kry elke keer nuwe lewe. Sukses in musiek vat 'n hele paar jaar.”
Hulle fokus nie net op hul band en hul musiek nie. Hul het almal ander goed ook wat hul besig hou. Chris doen nou sy Meestersgraad in Ingenieurswese, Danie en Moskou het so pas 'n restaurant oopgemaak in Stellenbosch en Albert werk aan sy solo rapalbum. En wat is hul skuldige plesiertjie? Zinger wings laataand ná ‘n show. Hulle geniet dit ook om nuwe restaurante te besoek terwyl hul op reis is.
As jy nog nie ‘n fan is nie, is daar vir jou raad. Luister na hul ongelooflike lirieke soos uit Bittermaan: “Hoe rafel die tou waaraan my hart soos ʼn klok hang, my kop swaai soos ʼn waaiende hand vir jou” en hul meesleurende musiek. Mens wil net nog meer hoor en, ja meisies, meer sien van Spoegwolf.
Comments