top of page

Helpie-sukses is nie vir sissies nie

  • Gerhardt Olivier
  • Mar 27, 2018
  • 2 min read

Toppresteerders van Gr 9, 10, 11 en 12. Foto geneem deur Heike Edeling

2018 se akademiese prysuitdeling op Donderdagaand 25 Januarie te Helpmekaar was nes die vernuftige Helpie-akademici wat die aand moontlik gemaak het – eksklusief en inspirerend.

Die aand is gekenmerk deur emosies soos spanning, hoop en verwondering wat slegs meegebring kon word deur ‘n volle jaar se ure van tandknersende moeite, stres en deursettingsvermoë.

Vir perspektief oor die werksgehalte wat vereis word, kan ‘n mens in ag neem dat slegs 151 van die byna 1100 leerders (13% van die skool), die geleentheid gebied is om deel van die aand te wees. Mnr. Klaus König som hierdie kriteria nie verniet op as ‘eintlik nogal terrible’ nie. Die feit dat so baie Helpies egter kophou en weier dat die hoë standaarde hul prestasie belemmer, dui op die opperste waardes wat deur die skool en sy etos in alle Helpies gekweek word.

Professor Derick van der Merwe, gasspreker by die prysuitdeling, beweer dat daar vier pilare is wat die basis vorm van die manier waarop Helpmekaar se leerders sukses behaal.

Eerstens is dit ‘n interne prestasie-gedrewenheid wat nie net op uitslae gefokus is nie, maar ook op die vrugte wat deur die strewe na potensiaalvervulling geproduseer word.

Die tweede pilaar is disipline wat deur tradisies poog om nie af te breek nie, maar eerder respek aan te leer en opvoeding te bevorder.

Derdens is Afrikaans ‘n medium wat eenheid tussen alle leerders skep en ‘n kulturele eienskap inbring.

Die laaste pilaar is Bildung. Dit is ‘n duitse woord wat as ‘n kombinasie van skepping, kultuur en ontdekking gedefinieer kan word. ‘n Woord wat ook vir (Duitse) Albert Einstein tot wêreldberoemdheid aangespoor het.

Helpmekaar het tydens hierdie spogaand toppresteerders en uitslae uit elke graad gesalueer. Welgedaan aan Lize-Li Smit, die toppresteerder in graad 8 met ‘n gemiddeld van 97,1%, Helene van der Walt in graad 9 met ‘n gemiddeld van 96,5%, Mignon Drotske in graad 10 met ‘n gemiddeld van 93,4% en Dané Odendaal in graad 11 met ‘n allemintige gemiddeld van 95%! Uitslae van mede-graadgenote wat mekaar met gesonde kompetisie aanspoor tot selfs hoër hoogtes.

Onthou daarom dat sukses met ‘n bietjie Bildung, binne die bereik van elke bekwame Helpie is.


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page