Welpies ontrafel die 'Gekoek'
- Heike Edeling
- Mar 27, 2018
- 2 min read

Op Vrydag 12 Januarie 2018 het ‘n horde Helpies die skoolsaal ingestroom om vanjaar se Welpies vir die eerste keer op die planke te aanskou.
Dié skitterende groentjiekonsert is op die sprankelende sprokiesverhaal, Raponsie, gebaseer en is deur Milandie Viljoen (gr. 12), skrywer en regisseur van dié vertoning, tot in die essensie van Helpie-wees verwerk. Met karakters soos Raponsgaatjie (Micaela Staal) en Flink Ridder (Zian Jansen) wat as nuwe leerlinge opsoek is na die verwonderende "magic" van Helpmekaar Kollege, en ander wat weer nie eers bewus is daarvan dat hulle die "magic" alreeds besit nie, vorm al die karakters deel van die tradisieryke storie wat elke Helpie daagliks lees.

In 'n neutedop handel die vertoning oor die "magic" van die uitgeleefde Helpie-verhaal, wat werklik nog altyd binne elke trotse leerling vasgevang is. Buitestanders glo dit lê dalk in die talle toekennings en prestasies, minwetend dat dié wonder egter 'n innerlike belewenis is wat slegs deur toewyding, deursettingsvermoë en respek vir ons pragtige skool ontvang word.
Jana Basson, drama-matrikulant, mede-regisseur en afrigter vir die hoofrolle van die groentjiekonsert, meen dat "Gekoek!" sonder ‘n enkele koek of knoop tydens die drukbesige voorbereiding verloop het. Sy sê ook dat die vele talente wat die Welpies by die oudisies tydens hul eerste dag by Helpmekaar Kollege ten toon gestel het, alreeds 'n voorsmakie van elke Welpie se opgewonde leergierigheid was. "Só kon die graad 12-dramaleerders ‘n volwaardige Helpmekaar Kollege-produksie sommer vroeg in die jaar op die verhoog bring!" sê sy opgewonde.
Alhoewel die vorige matriekgroepe glad nie teruggestaan het nie, is dit 'n feit dat die dramaklas van 2018 een van de mees geslaagde produkte nóg op die planke gebring het. Dus het die kostelike koms van 231 nuwe Helpies, mettertyd die stem van 800 ander met die soet herinnering van ons Helpie-sprokie welluidend versterk.

Comentarios