Eksotiese bederf uit die Ooste
- Marié Mouton
- Mar 25, 2018
- 1 min read

Melville is bekend vir sy goeie restaurante en die nuweling, The Great Eastern Food Bar, steek beslis nie af by sy voorgangers nie. The Great Eastern Food Bar is weggesteek agter ‘n gebou op die hoek van Rustenburgweg en Negende straat, hier kan jy eksperimenteer met Oosterse kossoorte en interessante drankies.
Die eetplek het ‘n buite area met ‘n pragtige uitsig oor boomryke strate sowel as nuwerwetse houtmeubels wat tot ‘n lewendige atmosfeer bydra. Behalwe vir die dekor is die kos, in die vorm van tapas, natuurlik iets om na uit te sien. Kos uit die Ooste is die lekkerste van al die windrigtings!
Die taai Tabasaki-hoenderboudjies is ‘n fantastiese Japanese gereg en ‘n vereiste wanneer jy hier kom eet. Die Thaise “corn fritters” en Japanese “sashimi tacos” is geurige tapas wat deel móét uitmaak van jou bestelling, maar die pryse gaan jou bankkaart ongelukkig so effens laat tjank. ‘n Gewilde nagereg is die diepgebraaide soetbolletjies met ‘n sout karameldoopsous- ‘n heerlike mondvol net soos die naam klink! Die restaurant het ook interessante drankies soos die Bessie- of granaatasyn drankie.
Die kelners is vriendelik en die diens is vinnig en betroubaar. Die restaurant is nóg nie so bekend nie, daarom behoort jy oor naweke vinnig en sonder moeite ‘n tafel vir jou en jou vriende of familie te kry. Al nadeel is dat Melville se restaurante beperkte (en benoude) parkering bied. Hierdie restaurant is ongelukkig geen uitsondering nie, maar gelukkig is daar Uber.
As jy op soek is na ‘n nuwe, nabygeleë en smaakvolle restaurant met eksotiese Oosterse geregte, is The Great Eastern Food Bar beslis ‘n goeie opsie!
Comments