top of page

Die Boekresensie

  • Marco van Staden
  • Mar 27, 2018
  • 2 min read

Titel: Vaselinetjie

Skrywer: Anoeschka von Meck

Uitgewer: Tafelberg Uitgewers

Aantal Bladsye: 246

Literatuur wat ‘n tienerhart kan ontbloot en dissekteer totdat daar net die essensiële van jou siel oorbly, is in vandag se woordbelaaide wêreld ‘n ware vonds. Vaselinetjie is só ‘n verhaal. Dit is ‘n verhaal wat die ontwikkeling van ‘n tiener nie deur ‘n rooskleurige bril weergee nie, maar wat tot elke leser op ‘n unieke manier, spreek oor die waarheid van grootword.

Hierdie verhaal is Anoeschka von Meck se tweede roman en sy toon merkwaardige diepte vir ‘n redelik onervare skrywer. Die boek is onlangs bekroon met die Jan Rabie/Rapport-prys vir vernuwende Afrikaanse prosa asook die MER-prys vir jeuglektuur. Die boek is ‘n grootwordroman en is ‘n pionier in hierdie genre. Hier is geen afgewaterde, holruggeryde liefdesverhaal en die leser word nie beskerm nie, maar eerder blootgestel aan rou emosies.

Vanuit die staanspoor is dit duidelik dat die hoofkarakter, Vaselinetjie, ‘n steil lewenspad het. Sy is ‘n wit meisie wat by haar kleurling-grootouers woon in ‘n hegte gemeenskap in die Noord-Kaap. Sy is die enigste wit meisie in haar skool en dit kom met sy eie moeilikheid. Sy word op elfjarige ouderdom weggeneem van haar geliefde oupa en ouma en geplaas in ‘n kinderhuis in Gauteng. Hier moet sy tussen geharde, kinderhuismeisies die verwikkelinge van grootword navigeer. Haar onskuld word spoediglik verruil vir krutaal en sigarette en sy verloor heeltemal die Vaselinetjie wat Ouma en Oupa geken het. Vaselinetjie maak hier ook vir die eerste keer kennis met die liefde, in die vorm van die misterieuse, donkerkop, Texan. Sy teenwoordigheid in haar lewe is egter nie sonder problem nie en Vaselinetjie se verhaal neem verskeie kere in die boek, gevaarlike haarnaald draaie.

Ek beveel die verhaal aan vir enige Afrikaanssprekende wat emosioneel en verstandelik uitgedaag wil word. Dit is nie net vir die jeug nie, maar kan ouer lesers ook ‘n ding of twee leer van die lewe. Vaselinetjie is ‘n verhaal wat meer as net die hartsnare roer, dit is ‘n volskaalse perkussie vir jou siel, wat getuig van onskuld, liefde en om uiteindelike gemoedsvrede en vertroue te hê in die Skepper.


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page