Bashers wat bybly
- Anja Steyn
- Mar 27, 2018
- 2 min read

Enige meisie wat al ooit ‘n basher op haar kop gesit het, kan getuig van die harde werk wat dit verg om daarna om te sien. Dit is dikwels ‘n prestasie om deur ‘n hele skooljaar te kom sonder om ‘n nuwe basher te koop. Elf matriekdogters het egter alle verwagtinge oortref en dra steeds dieselfde basher van graad agt af.
In 2009 het meisies in Helpmekaar vir die eerste keer begin om bashers te dra en sedertien is dié twee sinoniem. Meisies moet elke dag hul basher dra tydens aantree en wanneer hul tussen klasse wissel. Dit is egter vir die meerderheid meisies moeilik om hul basher in ‘n goeie toestand te hou. Daar het al talle bashers in die swembad beland of per ongeluk ‘n paar verdiepings grond toe geval.
Ten spyte van al hierdie gevare, is daar elf matriekdogters wat hul bashers van graad agt af tot en met graad twaalf kon beskerm. Hulle is: Caitlin Beare, Alicia de Beer, Aleida de Bruyn, Elri du Plessis, Michaela Engelbrecht, Deana Kruger, Nina Mostert, Megan Pienaar, Danica Royffe, Miah van Heerden en Maymarie van den Heever.
Danica Royffe se basher het al van haar kop af gewaai en in ‘n plas water geval asook verskeie reëndae oorleef. Sy is van mening dat dit belangrik is om na jou basher te kyk, want ‘n nuwe een is duur. Haar basher is vir haar soos ‘n vriend in nood. Dit help haar om uit die moeilikheid te bly.
Alicia de Beer, nog ‘n matriek wat daarin geslaag het om haar basher veilig te hou, vertel dat dit vir haar belangrik is om haar basher in ‘n goeie toestand te hou aangesien sy nie wil hê dit moet soos ‘n vissershoedjie lyk nie. Sy beveel ook aan dat meisies hul bashers met deurskynende spuitverf spuit wanneer hulle dit kry. Sodoende hou dit langer en word dit nie maklik vuil nie.
Dit is egter makliker gesê as gedaan. Dit verg moeite om jou basher op te pas en boonop is dit maklik om te verlê aangesien honderde ander meisies ook bashers dra wat amper presies dieselfde lyk. Teen graad 10 is menige meisies gewoonlik al op hul derde of vierde basher. Dit is boonop ‘n duur affêre aangesien ‘n basher meer as R300 kos.
Die matrieks wat na hul bashers omsien is ‘n baken van hoop vir die dogters in Helpmekaar asook hul ouers se beursies. Dit dien as bewys dat jou basher wel die Bruin Reus op die Bult kan oorleef. Jou basher is ‘n verlenging van jou karakter en is ‘n simbool van alles waardeur jy al in jou hoërskoolloopbaan is.
Comments