Swem sorg vir super-spangees.
- Gerhardt Olivier
- Mar 26, 2018
- 1 min read

Die jaarlikse interhuis-swemgala het op Vrydag 12 Februarie seker gemaak dat elke Helpie se vakansiestof in die plaaslike Helpie-swembad agtergebly het.
Huis Smuts het die aankoms met hul Smurfs-tema geopen, gevolg deur Empire se ‘Stormtroopers’ en Melle het die aankoms afgesluit met hul ‘Bikers-tema’.
Die Helpie-geesdrif het al vroegoggend geseëvier. Of dit weens die swemmery, of die skooldag sonder klas was, sal niemand weet nie, maar ‘n joliger affêre sal jy nêrens kry nie. Blou ledemate, leerbaadjies en ‘lig-swaarde’ het met borrelende entoesiasme om die swembad rondgeskarrel gelei deur musiek as melodieuse metgesel vir elke unieke huis.

Wit, bruin en geel het die pawiljoene gevul, waarna die magiese matrieks van elke groep en hul huisgenote met aansteeklike entoesiasme hul oorlogskrete laat weerklink het. Die eerste swemmers het weggespring en elke huis het hul verteenwoordigers met krete aangemoedig. Aanvanklik het elke huis met gelyke gesag hul spangees uitgebasuin, maar uiteindelik was slegs Empire sterk genoeg om met hul Helpie-krag die son se aanslae af te weer en sterk te staan.

Onnies is in die swembad geslinger, goue boude is geswaai en na die matriekswem en ‘n dag se stemband-vernietiging het Empire vir nog ‘n jaar met “geesbal” en swemtrofee in die sak, bewys waarom hulle die regeerders van die swem-sterrestelsel is.
Comments