top of page

Rowwe Rekord berei goed voor

  • Eduan Beukman
  • Mar 26, 2018
  • 2 min read

Met vakgemiddeldes wat aansienlik hoër is vir die eindeksamen as vir die rekordeksamen, is dit duidelik dat die rekordeksamen sy taak om leerders voor te berei vir die eindeksamen goed bemeester. Of dit nou is omdat die leerders harder leer, die werk beter verstaan en of die eindeksamen doodeenvoudig makliker is, bly ‘n subjektiewe saak.

Dit is nou eenmaal ‘n feit soos ‘n koei dat daar al vele bespiegelings was oor of die IEB (Onafhanklike Eksamen Raad) se metode van eksaminering aan die einde van matriek werklik doeltreffend is of nie. Tans word daar in September deur matrieks ‘n rekordeksamen geskryf. Tydens dié eksamen word jou kennis oor die hele jaar se werk getoets. Met ‘n lang Augustusvakansie vir voorbereiding is daar werklik geen rede waarom daar nie uitstekende resultate behaal kan word in die rekordeksamen nie, of is daar?

Volgens Rynhard de Bruyn, matriekleerling van 2017 en een van die top IEB-presteerders, is die rekordeksamen in sekere opsigte moeiliker as die eindeksamen. Hy sê verder: “Helpmekaar het ‘n manier om ‘n baie groot konsentrasie moeilike vrae te gee, terwyl ‘n eindeksamenvraestel beslis minder intensief is.” Met Helpmekaar Kollege se onderwysers wat geken word vir die opstel van moeilike vraestelle (in veral vakke soos Rekeningkunde, Ekonomie en selfs Wiskunde) los dit die vraag of die rekordeksamen nie ook gestandaariseer moet word nie. Volgens Meesteronderwyser, Carel Freysen, is die rekordeksamen nié opsetlik moeiliker nie, maar lig dit bloot die kinders in oor die standaard wat hulle kan verwag in die eindeksamen. Meneer Freysen beweer verder: “Teen die eindeksamen is leerders baie meer gereed en daarom presteer hulle gewoonlik beter.”

Nog ‘n probleem wat egter kop uitsteek, is die tydperk waarin al hierdie eksamens geskryf moet word. Daar is minder as ‘n maand tussen die afloop van die rekordeksamen en die begin van die eindeksamen. Jacques Peacock (nog ‘n voormalige matriekleerling en hoofleier) sê: “Die siklus van die eksamens raak lank, en sommige roosters is moeilik. Ek dink egter ‘n langer pouse tussen rekord- en eindeksamen sou leerders lui en gemaklik maak, iets wat jy definitief nie moet wees voor die eindeksamen nie.”

As dit by eksamens kom, is selfvertroue nou maar eenmaal ‘n kernbestanddeel tot sukses. Doen jy skokkend swak in die rekordeksamen kan dit dalk net beteken dat die eindeksamen soos ‘n berg voor jou lê en dus is ‘n goeie gemoedstoestand van kardinale belang. Aan die anderkant kan ‘n goeie rekordeksamen net die nodige dryfkrag wees om jou deur jou finale hoërskooleksamen te kry. Op die ou endkom alles terug na die nodige voorbereiding deur die leerder en deurlopende harde werk deur die (kort) akademiese matriekjaar wat die toepaslike punte sal verseker.


Comentarios


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page