Manjifieke Lirieke
- Heike Edeling
- Mar 26, 2018
- 1 min read

Met Spoegwolf se mees onlangse album, "Die Donker Toring", wat in Junie van 2017 bekendgestel is, slaag dié verrykende musiekgroep daarin om 'n harmonieuse hartstog binne hul gehoor te elektrifiseer.
'n "Winter"-tog na "Botswana", wat met die "Flikker" van 'n "Foto" en die "Skaduwee" van etlike volgelinge gepaard gaan, neem ons na die "Noorde" van ritmiese voortreflikheid. Spoegwolf se derde skitterende album vertel van 'n aanpassing om bo donker dinge in die lewe uit te staan, op te staan en weg te staan. Dié vier broers integreer hulle skryfkuns asook hul swierige sang op so ‘n manier dat hul musiek ikoniese onverganklikheid aan Afrikaans as taal bied. Hul liedjie, "Geel (Julie)", neem luisteraars op 'n warm reis waarin die sonnigheid van onvoorwaardelike liefde op 'n besondere wyse beleef word.
Alhoewel die liedjies op Spoegwolf se vorige albums, "Swaartekrag" en "Somer", nie volmaak saamgesmelt het nie, gaan dié Elektriese Kind(ers) akkoord met hul nuutste produk. "Die Donker Toring" is 'n pragtige produk van musikale groei wat aanleiding tot moontlike verandering van seisoene gee...
Getroue aanhangers kan vanjaar verfrissende "Sneeu" verwag, aangesien Danie, Moskou, Chris en Albert se vierde album tans in hul eie ateljee op Stellenbosch gekweek word.
Comments