top of page

Filosofie 101 - Die Eko-stelsel

  • Eduan Beukman
  • Mar 26, 2018
  • 2 min read

Filosofie. Grafiek deur Heike Edeling

Diere, met klere aan, ry in karre oral om ons rond. Natuurlik geselekteer is die metaforiese vleisvreters bo-aan die korporatiewe leer van welgesteldheid en voorspoed. Die sukkelende bokkies moet veg om oorlewing in ‘n aanhoudend krimpende middelklas. Terselfdertyd maak die insekte die oorgrote meerderheid uit, sonder kos; in terme van geld, mag en beheer natuurlik, hoe dan nou anders.

Leeus bly leeus. Verloor hulle egter hulle tande en verander oornag in grasvreters is aanpassing en improvisasie nodig. Waar is die lekkerste gras, waar kan jy veilig slaap en waar is die pad om weer in ‘n vleisvreter te verander? Sommige (nuut verkose) herbivore besluit dus dis veiliger om ‘n beleid van inperking in te stel en bloot van die metaforiese sosiale radar af te spring.

Die insekte hoop en bid om dalk bietjie genade van die middelklasherbivore te ontvang. Die leeus hou vergaderings en duur partytjies om in te samel vir die insekte, maar van dié insamelings kom daar gewoonlik net ‘n handjievol by die insekte uit. ’n Bose kringloop, ‘n ononderhandelbare voedselketting.

Die rolverdeling vat egter lukraak ‘n wending met die omnivore wat opslae maak; dit is nou die klomp wat tussen die bokke woon en vleis vreet, of dan soos vegetariese leeus optree. Om nie eens te praat van die openbare sektor se neste nie. Dié voëls vlieg oral heen en weer, hulle eet saam met die leeus, ignoreer die bokke, en hou hulself doof vir die insekte.

Dit is húlle wat moet sorg vir kohesie en effektiewe administrasie, maar die soutlekke bly leeg, die riviere bly droog en die figuurlike gras bly geel. Die geheime karnivoorvereniging distansieer hulself van die ekostelsel en verteer, in private hoedanigheid aan oorvol oasisse, oordadiglik vleis om die ewige (aangesien genoeg nie bestaan nie) honger te stuit. In die rooi lande met die sekelmaan word almal as bokke geklassifiseer, die voëls in dié lande vreet egter vleis en maak op vir die afwesige leeus.

Dit is die verhaal van die mens en sy stelsels. Die groot vraag bly egter staan, hoe lank voor hierdie vreesaanjaende ketting breek?


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page