Blitsflitse
- Marco van Staden
- Jul 20, 2018
- 2 min read
Kaatjies van die baan
Helpmekaar se seunstennisspan het op Saterdag 10 Maart aan die senior seuns tennis-interhoër by St. Stithians deelgeneem en algeheel vierde uit twintig skole geëindig.
Die meisiesspan het net so goed gevaar tydens die senior meisies tennis-interhoër wat vroeër die maand by St. Mary’s gehou is. Die A-span het ‘n derde plek, en die B-span ‘n tweede plek, behaal. Helpmekaar se meisiesspan het ook die 2018-Premierliga gewen en spog met twee nasionale spelers: Jessica Portwig en Mieke van Deventer.
Christine Gouws, wat vir tien jaar al tennis speel, sê dat genot ‘n belangrike deel van die spel is. Verskeie fasette van die spel moet egter eers bemeester word om dit werklik te geniet. Helpmekaar se eerste meisiestennisspan het sedert 2015 in die top drie spanne by die tennis-interhoër geëindig. Christine meen verder dat sielkundige voorbereiding ook nodig is om suksesvol te wees.
Die Muurbalgogga het byt
Die senior meisies-muurbalspan het die seisoen op ‘n hoë noot afgesluit deur vir die tweede agtereenvolgende jaar die tweede plek in die liga te beklee. Die meisies het al hulle wedstryde, behalwe die een teen die nommer een muurbalskool in die land, St. Mary’s, gewen.
Liana Maritz, ‘n matriek-muurbalspeelster, glo dat die muurbalgogga nie los as dit eers bytplek gekry het nie. Volgens haar word die eerste meisiesmuurbalspan se sukses aan toewyding en ‘n liefde vir die spel toegeskryf.
Die muurbalgogga, wat haar in graad 9 gebyt het, byt elke jaar al meer Helpies en die spelers getuig dat muurbal ‘n sosiale sport is wat seuns en dogters geniet. “Muurbal vereis tegniese vaardighede en die spelers baat by die afrigters se professionele benadering en raad,” sȇ Liana.
Oriëntering hou koers
Die Helpie-orienteringspan, o.l.v. mnr. Dean Alberts, het Maandag 12 Maart ‘n tweede plek tydens die finale liga-kompetisie wat by die Johannesburgse Dieretuin gehou is, behaal. Tiaan Luwes (1ste) en Ryno Grové (6de) het onder die top 10 indivuele plekke geëindig.
Volgens ‘n trotse Mnr. Dean het dié een-en-twintig Helpies naelskraap teen Fourways High School verloor en het al die spanlede tot aan die einde toegewyd en gemotiveerd gebly.
Comentarios