Journey 2017
- Marco van Staden
- Mar 25, 2018
- 2 min read

Na afloop van die graad 11-eksamen het die matrieks van 2018, op 25 November 2017, vertrek na Kosibaai aan die Kwazulu-Natalse kus. Vier dae se son, see en vriende by die see klink na ‘n lui-lekker vakansie, maar tussen hulle en ‘n vakansie was ‘n 70 kilometer staptog.
Van uitrus was daar geen sprake nie. Die Helpie-matrieks van 2018 het halfvyf die oggend op busse geklim en die lang tog na die alombekende “Journey” aangepak, weliswaar effens verlep en oormoeg. Dit was die toer waarna elke Helpie al van graad agt af uitsien en die oomblik het anti-klimaties aangebreek met ‘n tien ure busrit na Kosibaai. Die Helpies is verwelkom met ‘n kilometer se strawwe stap, met sakke op die rug maar opgewonde stemme het heel pad weerklink tussen die leerders.
Tente is in ‘n oogwink opgeslaan en die groep is opgedeel in spanne. Die spanne, met name soos Die Seesterre, Muskiete en Seekoeie het die leerders se trots geword vir die volgende paar dae. Die goeie gees wat tussen die leerders geheers het, was opsigtelik van die eerste aktiwiteit af. Spanne het mekaar aangemoedig tydens aktiwiteite soos kruiwa-loop, malvalekkers-in-jou-mond-stop en die bou van die “mascots”. Die leerders het saam gelag, mekaar opgehelp en aangespoor.
Die oggend van die 26ste was die Helpies vroeg uit die vere en nog voordat almal in hul stapdrag kon verklee, het Meneer König met ‘n vaart weggetrek en die staptog het begin. Die drie dae se marsjeer deur bosse en op die strand het die Helpies vining geleer wat is belangrik op so staptog. Albert von Moltke sê dat hy besef het dat die waarde van sonskerm nie onderskat moet word nie. Wernich van Staden se praktiese raad is om te luister as die graadvoogde aanbeveel dat jy met ‘n klein rugsakkie moet stap. Volgens Cillié Steenkamp leer die staptog jou om mekaar te respekteer en kry jy kans om leerders buite jou vriendekring beter te leer ken. Die matrieks se uithouvermoë is getoets en ‘n matriekeindeksamen het al hoe meer soos ‘n vulletjie begin lyk.
Die matrieks was dit eens dat hierdie ‘n staptog is waarop jy nie net jou voete blase stap en die pas afgelope eksamenstres stukkend trap nie. ‘n Groet op die stoepe of Kosibaai se sand in jou rugsak herinner die matrieks aan hierdie staptog waarop die Helpie-ketting wat nooit breek nie, versterk is.
Comentarios