Helpies sal hul staal in stoei wys.
- Anja Steyn en Gerhardt Olivier
- Mar 25, 2018
- 1 min read

Helpmekaar bied aan sy leerders 'n verskeidenheid sportsoorte en in die openingsweek van 2018 het ‘n opwindende nuwe sportsoort by hierdie arsenaal aangesluit. Stoei is vir die eerste keer aangebied en ‘n mens kan op Dinsdag- en Woensdagmiddae direk na skool in die forumsaal by die bekwame afrigters aanmeld.
Die voorloper van die span wat stoei as sport by Helpmekaar bekend gestel het, is Mnr. Dietlov Coetzee. Hy het self provinsiale kleure in stoei verwerf en sit nou aan die stuur van die sport. Sy seuntjie stoei ook tans en hulle is altwee opgewonde oor hierdie vooruitsig.
Mnr. Dietlov glo dat stoei ‘n gewone sportsoort soos enige ander is. Hy benadruk egter dat die sport ‘n mens fisiek en geestelik ontwikkel en dat jy ongelooflike lewenslesse soos goeie dissipline en deursettingsvermoë aanleer.
In 2018 sal Helpmekaar begin met die lê van basiese stoei-fondasies en hulle wil poog om oor 5 jaar een van die prominente klubs in Gauteng te wees wat jaarliks provinsiale stoeiers oplewer.
Die belangstelling in stoei is op die oomblik ongelooflik. Daar is ook reeds twee Helpie-meisies wat ingeskakel het (dus is alle geslagte welkom) en een van die afrigters, coach Madi, is self ‘n SA-stoeier wat brons by die Statebondspele in 2014 behaal het. Sy is ‘n skitterende afrigter wat almal, van beginners tot veterane kan help.
Gaan klop dus gerus by Mnr. Dietlov in die forumsaal aan. Hy mag jou dalk effe hard op die skouer klop, maar sy aansteeklike entoesiasme beloof om stoei binnekort jou nuwe aardskuddende stokperdjie te maak.
Comments