Helpies leer hoe om hul stemme dik te maak
- Jené Becker
- Mar 25, 2018
- 1 min read
Op 19 en 20 Januarie het die junior en senior debatteerders die hare behoorlik in Afrikaans laat waai by die jaarlikse Helpmekaar-debatskursus te Helpmekaar Kollege.
Vrydag het die debat-kursus afgeskop met die debatteerders wat in die Aula geleer het hoe om ‘n behoorlike debat te voer met kenner op die gebied, Daniel du Plessis, ‘n organiseerder van die Dink of Sink debatskompetisie. Hy het die Helpies gewys hoe om ‘n debat te voer en te wen. Rèzanne Neethling, ‘n ATKV-debat-beoordelaar, het die debatteerders deur die beoordeling en puntestate geneem en gewys hoe om punte op te bou.
Saterdag het die debatteerders hul kans gehad om hulle sê te sê. Almal is in spanne opgedeel en die uitdunne vir die junior en senior debatspanne vir 2018 het afgeskop. Die juniors het in die Aula suikersoet debatte gevoer oor die onderwerp: “Is suikerbelasting tot voordeel van die Suid-Afrikaanse gemeenskap of nie?” en die seniors moes hul politieke kennis opskerp en wys toe hulle in die Odeon gedebatteer het oor die onderwerp: “Verswakte state noodsaak die betrokkenheid van die burgerlike samelewing of nie”.
Daniel du Plessis het ook daarop gewys dat debatvaardighede nie net help gedurende kompetisies nie, maar toekomstig kan help met onderhandelingsvaardighede in die werksplek.
コメント