top of page

Reën voed Helpie-gees

  • Carmine Van der Westhuizen
  • Mar 25, 2018
  • 2 min read

Atletiek Interhoër 2018. Foto geneem deur Kristi Steyn

Op Woensdag, 28 Februarie het Helpmekaar Kollege ‘n naelskraap tweede plek verwerf by die jaarlikse NWU (Pukke) Interhoër te Pilditch stadion. Helpmekaar Kollege het puik presteer en 715 punte verwerf, slegs 24 punte agter Prestige College - wat weer vanjaar koning kraai by die Superliga Interhoër.

Die Helpie-atlete het teen massa-skole deelgeneem en die uitslag van die byeenkoms is as volg: Prestige College (739 punte), Helpmekaar Kollege (715), Monument Hoërskool (596), Garsfontein Hoërskool(584), Waterkloof Hoërskool(581), Zwartkops Hoërskool (528), Kempton Park Hoërskool (476). Helpmekaar se dogter-atletiekspan het derde geëindig en die seunspan het vierde geëindig.

Die Helpie-atlete het weereens Helpie-'guts' gedemonstreer en puik presteer. Daar was talle uitstekende prestasies soos Carmen Jordaan wat aangewys is as die Junior Victrix Ludorum. Marco Claassens, atletiekkaptein van 2018, is uiters trots op elke Helpie-atleet wat hulle allerbeste vir die skool gegee het. Hy sê dat elke atleet - van die wat gewen het tot die wat baklei het vir ‘n agste plek - karakter gewys het. Handré Jonker, Marco se mede- atletiekkaptein van 2018, reageer positief op dié uitslag en plaas klem daarop dat vanjaar 'n reuse verbetering op verlede jaar se uitslae was en dat die atletiekspan nou net op hierdie verbeteringe moet voortbou.

Dis Ons Plek Helpmekaar! Foto geneem deur Kristi Steyn

Die stryd het egter verder gestrek as net op die atletiekbaan of op die veld, want elke Helpie-ondersteuner het hart en siel saam met die atlete baklei. Christoff Basson, 'n dirigent, vertel dat die skool se gees aansteeklik was tydens die geesvang en dat hy nog nooit van tevore só deel gevoel het van die Helpie Army nie. Suzette Crause een van Christoff se mede-dirigente gaan akkoord hiermee en sê dat dit ongelooflik was hoe die leerders op die pawiljoen meer energie en geesdrif gekry het net toe die reën uitgesak het.

Die meeste skole se moed sak in hulle skoene wanneer dit begin reën, maar volgens Alexander Kelbrick, ‘n dirigent, het die reën die Helpies saamgetrek en sterker bande onder mekaar laat vorm. Christoff sluit hierby aan en sê die feit dat dit op die matrieks se eerste Interhoër in 2014, te Germistonstadion heeldag gereën het asook op hulle laaste interhoër gereën het, wys die ware kleure van dié graadgroep. Hy sê:”Dit wys ons het hard begin en ons het hard geëindig.”

Die interhoër is altyd ‘n hoogtepunt op die Helpie-kalender en is vir talle Helpies spesiaal. Alexander vertel dat hy skoon emosioneel was tydens die sing van “School of Helpies” en Handré Jonker, atletiekkaptein van 2018, vertel dat Helpie-atletiek altyd deel van hom sal wees. In die lig hiervan was vanjaar se Interhoër ‘n reuse hoogtepunt!


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page