top of page

Eksamenflaters laat onnies skater!

  • Marié Mouton
  • Mar 25, 2018
  • 2 min read

Novembermaand is ‘n besige maand by Helpmekaar en dit is maklik om tydens die bedrywige eksamentydperk ‘n onskuldige (of dalk skuldige) fout in jou vraestel te maak. Ongelukkig is daar onderwysers wat hierdie snaakse flaters raaklees en heeltemal te veel plesier daaruit verkry.

Fisika-onnies kan veral nie uitgepraat raak oor die eienaardige dinge wat hulle al in vraestelle teëgekom het nie. Aktiveringsenergie het beslis ‘n streng definisie wat Juffrou Elsabé verkeerd sal merk as jy die “ ‘n ” op die verkeerde plek sit! Volgens ‘n Helpmekaar-leerder verwys aktiveringsenergie eintlik na “wat nodig is om my in die oggend uit die bed te “kry.” Hierdie is dalk waar in die meeste gevalle, maar sal nie aanvaar word in fisikavraestelle nie.

Dis moeilik om by te hou met verskillende vakke, veral as jy twee vraestelle op dieselfde dag skryf. As hulle in ‘n fisiese wetenskaptoets vir jou vra, wat vibrasies is, kan jy dalk per ongeluk verwys na goeie en slegte vibrasies, soos die “good vibrations” van die 60’s. Onthou vibrasies in fisika verwys nie na die hippies nie.

Tydens dramaprakties is enige woord toelaatbaar, selfs al is dit ‘n bietjie riskant, aangesien dit jou karakter se woorde is en nie jou eie nie. Dramateorie het wel ander reëls en om die “s” van rekwisiet te vervang met ‘n “t” sal dalk jou onderwyser laat grinnik, maar dit gaan nie vir jou punte gee nie.

Besigheidstudies het verskeie definisies en daar kan definitief snaakse antwoorde na vore kom as moeilike woorde soos sinergie ter sprake is. Op die vraag, “gee een woord vir 1 + 1 = 3,” was ‘n weldeurdagte antwoord “wiskundige geletterdheid.”

Die “golden boys” beïndruk ons almal met hulle danspassies. Hulle het een leerling so beïndruk dat toe sy in Afrikaans gevra is om ‘n sin met manewales te maak, sy as volg geantwoord het: “Dit is soortgelyk aan ‘n wawiel, behalwe dat ‘n golden boy dit doen, en dit lyk baie meer asemroowinder” (sic).

Behalwe vir hierdie lagwekkende antwoorde, kom daar ook soms simpatieke boodskappies voor. Almal is skuldig daaraan om ‘n nota, waarin jy soebat en smeek om “nie te streng te merk nie”, aan die onnie te skryf. Party onderwysers is selfs al omkoopgeld aangebied!

Een ding is seker: solank daar eksamens is, sal daar flaters wees en onnies wat skater!


Comentários


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page