top of page

‘n Helpie-Druppel in Kaapstad se emmer

  • Aleida de Bruyn
  • Mar 25, 2018
  • 3 min read

Helpmekaar Kollege het 1250 liter water op 13 en 14 Februarie as deel van die noodlenigingsorganisasie, Gift of the Givers, se Ramphulpprogram aan die droogtegeteisterde Wes-Kaap ingesamel. Leerders is gevra om geseëlde 5-liter waterbottels met etiket op skool toe te bring. Die onbreekbare Helpie-ketting het weer gewys dat Helpie-harte vir ander klop en 250 5- liter bottels is aan die Gift of the Givers organiseerders oorhandig. Juf Olwyn Rheeder wat die projek aan Helpmekaar se kant van stapel gestuur het, sê dat sy by haar seun se skool van die projek gehoor het en aangenaam verras is met die hoveelheid bottels wat skool toe gebring is. “Dit was ongelooflik om te sien hoeveel Helpies wou bydra. Elke klein bietjie help en dit is nie altyd net groot gebare wat ‘n verskil maak nie.”

Die Wes-Kaap is as rampgebied verklaar na die ergste droogte in die geskiedenis. Die afgelope 3 jaar is die minste reën in 83 jaar in die damme se opvangsgebied aangeteken. Volgens statistiek is 2017 die jaar met die laagste reënval sedert 1933. Onlangs het Kaapstad die internasionale nuusstasies gehaal met BBC en CNN wat berig het oor die moontlikheid van Dag Zero, die dag wanneer die krane heeltemal ophou loop in Kaapstad. Kaapstad en omgewing word van water voorsien vanuit 44 damme.

Op 20 Februarie 2018 was die damvlakke op 22.9% volgens die webblad van die Weskaapse Regering. Waterbeperkings in Kaapstad is op vlak 6B wat beteken dat elke mens slegs 50 liter per dag mag gebruik vir kos, persoonlike higiëne en drinkwater. Om perspektief te gee gebruik mense gemiddeld 121 liter water per dag. As jy sou stort vir net een en ‘n half minuut gebruik jy reeds 20 liter water. Van die 121 liter word ‘n derde per dag gebruik om die toilet te spoel, ‘n derde vir persoonlike higiëne en ‘n derde vir wasgoed en skottelgoed was en kosmaak en drinkwater. Die toegelate 50 liter water per dag per persoon is dus bittermin.

Kaapstad en die Wes-Kaap is egter nie die enigste droogtegeteisterde gebiede in die land nie. Port-Elizabeth het ook reeds vlak 6B waterbeperkings met slegs 25.62% water in hul damme. Droogte word ook ervaar in Limpopo en Kwazulu-Natal. Skokkende statistiek is ook dat 36% van die land se water verlore gaan as gevolg van diefstal, swak onderhoud infrastruktuur en lekkasies.

Die Departement van Waterwese het in Januarie die volgende statistiek in verband met die damme regoor die land bekendgemaak: damvlakke in Gauteng is op 94.3%, 66.1% in die Vrystaat, die Vaaldam staan op 80%, Noord-Kaap se damme op 76.6%, Noordwes 68.7% en Limpopo op 65.7%. Die mees kommerwekkende damvlakke is in Kwazulu Natal (49.6%), in die Oos-Kaap (59.6%) en die Wes-Kaap (26.6%). Gautengers kan egter nie ontspan en rojaal water gebruik nie aangesien die water wat van die Vaaldam gepomp word na Gauteng reeds ver bo die gemiddelde toelaatbare lisensieverbruik is.

Gauteng het sedert Maart 2017 vlak 1 waterbeperkings wat behels dat ‘n tuin nie tussen 6:00 en 18:00 in die somermaande natgespuit mag word nie en dat plaveisel nie met ‘n tuinslang afgespuit mag word nie. ‘n Sensitiwiteit ten opsigte van waterverbruik en ‘n waterbesparingsmentaliteit gaan tweede natuur in Suid-Afrika moet word.

Volgens die Verenigde Nasies sal klimaatsverandering en gepaardgaande laer reënval en bevolkingsgroei veroorsaak dat die vraag na vars water wêreldwyd teen 2030 met 40% oorskry sal word. Dit noop ons om water met meer respek en omsigtigheid te behandel om so ‘n Dag Zero in ons eie huishoudings te vermy. Ons sal almal ‘n nuwe “normal” ten op sigte van waterverbruik moet implementeer. Intussen doen die Helpies wat hul kan om mede-landsburgers, familie en vriende in Stellenbosch van water te voorsien.


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page