Parys, Marokko, Rome: propvol Helpie-drome
- Aleida de Bruyn
- Oct 30, 2017
- 2 min read

Ontdekkingsreisiger, Ibn Buttuta, het gesê: "Reis laat ‘n mens sprakeloos en dan verander dit jou in ‘n storieverteller."
Die 2017 graad 11-Augustustoer was ‘n onbeskrylike ervaring. Sprakeloos is nie ‘n woord wat gewoonlik sinoniem is met 75 graad 11-Helpies nie, maar Marrakesh het selfs die luidrigtigste Helpie se mond gesnoer. Wat ‘n mens vooraf hoor van die toer, is nie ‘n oordrywing nie: jy gaan stap. Ons hoof word nie moeg nie, hy stap voor. Hy is nie moeg na ‘n deurnagvlug met geen slaap nie, hy is nie moeg na 34 km se stap nie. Hy is nie moeg na 3 weke se stap nie. Ons ook nie. ‘n Helpie word net gewoon nie moeg nie.
Die eerste bestemming was Parys. Die skoonheid, kuns en kultuur het die toerlede op ‘n golf van ekstase gehad. Croissants, baguettes en macaroons het gesorg vir ‘n gastronomiese ervaring. Die Eiffeltoring se 1710 trappe is deur top atlete, skouer aan skouer, met minder atletiese maters op hul hakke, uitgehardloop. Ons kon die atmosfeer van Parys indrink en wandel langs die Seine-rivier en verken.
Volgende op die program was Marokko. Dit is ‘n groot aanval op jou sintuie. Die kleure, geure, smake en geluide is ongeëwenaar. Dit herdefinieer hitte: 50 grade Celsius is die nuwe normaal. Galante Helpie-seuns het ‘n kordon om die meisies getrek, want die Marokkaanse mans was lastig. Almal se hoogtepunt was die kameelrit deur die Sahara-woestyn na ‘n tentkamp waar daar oornag is.
Die eerste wolkbreuk in 3 jaar het tydens die kameelrit oor die woestyn los gebars. Weerlig het die sand om die kamele geslaan, en al die Helpies was druipnat. Markte, speserye, onwelriekende leerlooierye, mense massas, diere, slange, skaapkoppe te ete, natuurskoon en verseggende hitte som Marokko mooi op. Alle oë was wawyd oop om elke herinnering te probeer inneem en wegbêre.
Rome was die laaste en lekkerste bestemming. Pizzas, pasta en gelato is deur honger Helpies ingeasem. Die Colosseum en Forum se atmosfeer laat ‘n indruk op reisigers wat nooit vergeet sal word nie.
Die toer was ‘n onvergeetlike ervaring. Die persoonlike groei en verbreding van horisonne en verskuiwing van grense, kan nie in monetêre waarde gemeet word nie. Jy word gedwing om nuwe maats te maak: as jy en jou kamermaat (elke aand ‘n ander maatjie) eers saam in ‘n enkelbed geslaap het en ‘n badkamer in “skaapkop vir aandete”-land gedeel het, is julle besties vir altyd.
Juffrouens Richelle, Jana en Trudy het saam met toerlede ontbeer, getroos en geniet en Menere Klaus, Nico en Dean het motiveer en aangemoedig. Daar is geleer om stiptelik te wees, vas te byt, te geniet en te waardeer: kortom om ‘n ware Helpie te wees. Die toer was magic!

Comments