Onnie-kaskenades
- Aleida de Bruyn
- Oct 30, 2017
- 2 min read
Ons spandeer elke dag ure by die skool en een van ons stres-teenvoeters is om saam te lag. ‘n Paar graad 11’s is gevra wat hulle onnies se snaaksste sêgoed of beste oomblikke in die klas is. Ons onderwysers lê ons na aan die hart, maar wees gewaarsku, daar is geen beter of skerper waarnemer as ‘n tiener nie.
Die volgende skreeusnaakse resultate is opgelewer:
“Life is hard and then you die.” – Juf Maria Christellis, ons “Greek Gift”.
Sy sing gereeld Griekse liedjies en meen dat sy oor toetse droom en heeltyd syfers sien. Sy sukkel soms bietjie met vertaling van Engels na Afrikaans, en die kinders weet al as sy “belowe” iets is in ‘n toets, “believe” sy dit eintlik. Sy is egter nie die enigste onderwyser wat vertaling na Afrikaans uitdagend vind nie, Juffrou Aritha laat kinders skaterlag in die Franse klas wanneer sy meen dat sy ‘n ****fiel is, maar eintlik bedoel dat sy ‘n Frankofiel is.
“Ek is so lightweight, ek trap op ‘n winegum en val dan sommer om.” – Juf Marinda Eddie
Juffrou Eddie sit ook arrogante kindertjies vinnig terug op die aarde. As iemand meen hulle het ‘n “baie goeie toespraak” geskryf, antwoord sy met: “‘Goed’ is relatief, my kind.”
Troebadoer, meneer Nico, deel gereeld stories van een van sy vriende en wanneer hy ‘n fout maak, vra hy of hy mal word. Ten spyte van sy “malligheid”, het hy vele talente en verstom die kinders met sy kitaarspel- en sangtalent.
Al noem Frau Angelika die Duitse kinders Umpalumpas, voel hulle ontevrede omdat hulle soos fabriekswerkers werk, maar geen sjokolade daarvoor kry nie.
As slegs twee kinders goed doen in ‘n Wiskunde toets (juniors, wag maar vir graad 11-Wiskunde), sê meneer Carel: “Two stars and many disastars.”
Meneer Stoffel skryf met sy bordpen in die lug wanneer hy onseker is oor wat hy werklik wil skryf, maar hy maak elke Rekeningkunde-periode ‘n unieke ervaring.
Juffrou Harmse laat kinders se koppe behoorlik draai as sy begin praat oor hoe daar baie regte antwoorde op ‘n multikeuse vraag is, maar die een wat die mees korrek is, moet gekies word.
Meneer Willie maak almal wakker in die IGO-klas wanneer hy met sy plank op die naaste tafel slaan om almal se analitiese vermoëns in formaat te skrik.
Juffrou Louise Hattingh (stylikoon) skryf gereeld op haar truprojektor in die klas. Wanneer daar dalk ‘n bietjie speeksel betrokke raak, word dit altyd weggevee met die woorde: “Daar is niks lekkerder as Rek-spoegies nie!” Sy is ook vreeslik ordentlik en as iets haar frustreer en ‘n mens sou dink daar is ‘n kragwoord op pad, is haar verkose tussenwerpsel “Sjokolade!” Sy glo in harde werk en noem haar studente gereeld haar "varkies" en al voel hulle asof hulle soos diere werk, is hulle ewig dankbaar vir haar onvervangbare onderrig en onblusbare energie vir haar vakgebied.
Juffrou Susan Steurer is ook nie heeltemal so ernstig soos sy lyk nie. Sy begin elke periode met ‘n grappie of ‘n storie en elke keer as ‘n Helpie ‘n foto neem van die huiswerk op die bord, ‘pose’ sy soos ‘n supermodel vir die foto.

Comments