Krieketkaptein se wenke vir uitmuntende spel
- Gerhardt Olivier
- Oct 30, 2017
- 1 min read
Helpie-krieketspelers kan voorwaar trots wees op hul eerstespan-kaptein, Eugene Maritz. Met ervaring, dryfkrag om elke dag beter te speel en ‘n liefde vir die sport, lei hy sy span na hoër hoogtes.
Die krieket-gogga het Eugene op vyfjarige ouderdom tydens 'n familievakansie op die strand gebyt. Vandat hy ‘n kolf kon vashou, het hy deur talle oorwinnings en nederlae sy vaardighede as kolwer en bouler geslyp. Vandag lei hy die eerstespan tot trotse oorwinnings oor strawwe teenstaanders soos Northcliff High.
Eugene weet dat spangees, geloof in mekaar en goeie verhoudings noodsaaklike elemente vir ‘n suksesvolle span is. Volgens hom is ‘n goeie krieketspeler iemand wat in alle aspekte uitblink, konstant poog om homself te verbeter en nooit moed opgee nie. Hy waarsku ook dat ‘n mens nie fiksheid tydens ‘n wedstryd moet onderskat nie en dat jy geduld en deursettingsvermoë moet hê.
Hierdie kaptein glo dat Helpmekaar se spanne vir geen skool moet terugstaan nie. Hy is oortuig dat hulle die top skole in Suid-Afrika kan klop mits daar genoeg motivering, aanpasbaarheid, ondersteuning en goeie afrigting is.
Eugene se raad aan jonger Helpie-krieketspelers is: “Jou laaste nederlaag sal bepaal hoe jy die volgende wedstryd aanvat. Daar sal dae wees waar dit moeilik gaan, maar dit is juis dan wat jy moet vasbyt en moet krieket speel omdat jy dit geniet.” Dit is juis op sulke spanningsvolle dae wat hy, sy span se gemoed, met sy sin vir humor opkikker.
Droom groot, oefen hard en geniet die sport, Helpie-krieketspelers. Ons staan bankvas agter julle!

Comments