Helpies vestig as top debatskool
- Eduan Beukman
- Oct 30, 2017
- 2 min read

Op 12 Augustus het Helpmekaar Kollege weereens die debatgemeenskap gedomineer toe Henri Staal (graad 10) en Eduan Beukman (graad 11) die ATKV nasionale senior debattitel na die Goudstad teruggebring het.
Dié uitslag, by Goudini Spa in die Wes-Kaapse Slanghoek, het egter veel meer tyd geverg as die 60 minute van ‘n vurige debat op die dag teen Bergsig Akademie van Rustenburg. Voorbereiding het al voor die skole in Januarie geopen het, begin. Om mense te oortuig dat ‘n verhoging in BTW ekonomiese ontwikkeling tot gevolg sal hê, was nie die maklikste taak op aarde nie.
Om goed te kan debateer verg passie, selfvertroue en ‘n emmer vol aktualiteit. Om die ATKV- debat te wen, verg navorsing, navorsing en verdere navorsing. Dié kompetisie word verdeel in drie dele: konstruktiewe toesprake, die debatsgesprek en om alles dan tot ‘n mooi geheel saam te bind, asook die belangrikste faktor, die repliek.
Helpmekaar se junior debatspanne het glad nie vir kompetisie teruggestaan nie. Die twee junior spanne, Nina Marais, Charlie de Kock en Lize-li Smit (almal graad 8), en die ander span, Hanri Lourens (graad 8), Pieter le Roux en Jené Becker (graad 9), het die Helpies se naam hoog gehou by die ATKV landsfinaal. Hulle moes debateer of protestoptogte bydra tot ons land se demokrasie.

In ‘n ander hoedanigheid en strategie het Simóne Shirley, Jolinda de Kock en Anja Steyn (graad 9) tweede in die land geëindig in die jaarlikse Dink of Sink-debatskompetisie op 23 September by Afriforum se hoofkantoor in Centurion. Hierdie kompetisie is egter meer gemik op onvoorbereide toesprake en daar is ook geen repliek nie. Volgens Jolinda is die beste deel van onvoorbereide debat dat “ almal op gelyke vlak is aangesien geen voorbereiding nodig is nie”. En boonop word daar oor aktuele sake gedebateer met beoordeelaars soos Gerrie Nel.
Helpmekaar het sy stem dik gemaak in albei onvergelykbare debatkompetisies, 'n pretasies waarop die skool kan trots wees.
Comments