Helpies se sê tel danksy redenaars
- Danielle Brink
- Oct 30, 2017
- 1 min read

Op 10 Augustus 2017 het die ATKV Redenaars se landsfinaal by Goudini Spa in Kaapstad plaasgevind. Helpmekaar spog met 5 leerders in die Top 20 en 2 Helpmekaar-redenaars het in die Top 10 uitgeblink.
Na ure se afrigting en met die nodige toewyding, het Helpies dit reggekry om talle mense se menings te laat swig. Pieter le Roux, Christoff Basson en Jacques Peacock het in die Top 20 van Suid-Afrika geeïndig, met Jené Bekker en Jolinda de Kock wat nou onder die Top 10 in die land tel.
By Helpmekaar neem die belangstelling in redenaars jaarliks toe en versteekte talent word gereeld ontdek. Die interne redenaarskompetisie moedig leerders aan om dié vaardigheid te ontwikkel. Na die interne kompetisie neem Helpmekaar gedurende die jaar aan verskeie kompetisies deel. Verskillende kompetisies toets unieke eienskappe van die redenaar en dus kan ’n redenaar spesialiseer in dit waarin hy of sy goed is.
In die voorbereide kategorie lewer die individu 'n vooraf geoefende toespraak waarin die redenaar die gehoor van hom of haar standpunt oortuig. By die onvoorbereide kategorie ontvang redenaars hul onderwerp eers 10 minute voor die aanbieding. Helpmekaar bied ook spanredenaars aan, of anders geken as spraakgilde.
"Mens besef nie hoe belangrik dit is om voor mense te kan praat nie," vertel juffrou Linda Peacock, die organiseerder. Sy moedig Helpies aan om die meeste van die geleenthede wat Helpmekaar bied, te maak en hulle stemme te laat hoor. Sy meen: "As jy eendag in die besigheidwêreld wil ingaan, is dit onvermydelik."
Комментарии