Groot Trek terug na die Tuiste van Toeka
- Gerhardt Olivier
- Oct 30, 2017
- 2 min read

Daar was die afgelope dekade ‘n skerp toename in Suid-Afrikaners wat hul goed-gevestigde lewens agtergelaat het om in die Wes-Kaap met ‘n nuwe hoofstuk te begin - ‘n tendens meer bekend as semigrasie.
Tussen 1835 en 1840 het Hollandse grensboere Noord getrek opsoek na groener weivelde. Volgens hulle was die Kaap net té onveilig en klein. Min het hulle egter geweet dat hul agterkleinkinders presies die teenoorgestelde sou doen.
Navorsing deur “Statistics SA” toon dat ongeveer 690 000 Suid-Afrikaners die afgelope 10 jaar besluit het dat die Wes-Kaap beter na hul behoeftes kan omsien, ‘n merkbare kontras met die byna 290 000 Suid-Afrikaners wat die land verlaat het. Tog laat dit die vraag ontstaan: Waarom verlaat soveel Suid-Afrikaners hulle tuistes om sogenaamde ‘Flats-bure’ te word?
Die Wes-Kaap is die hedendaagse hemel op aarde - daar is mos, sover as wat ons weet, nie water in die hemel nie? Droogtes en bylmoorde vat hande met die Suidooster wat dakke afwaai en kraglyne omwaai en dit sorg vir perfekte lewensomstandighede! Eiendomsstrateeg, John Loos, waarsku egter: “Moenie outomaties aanneem dat die gras altyd groener is aan die anderkant nie.”
Die grootste persentasie semigrante is middeljarige, wit Suid-Afrikaners met standvastige inkomstes wat trek om tussen wynplase, berge en die see te gaan werk. Bewerings dat die DA beter lewensstandaarde voorsien, is klaarblyklik akkuraat en pensionarisse benut die asemrowende voorstede om hul goue jare te geniet. Navorsing bewys egter dat die Wes-Kaap ‘n figuurlike wolf in skaapsklere is, aangesien dit volgens “businesstech.co.za” negende op die wêreld se gewelddadigste provinsie-lys staan.
In teenstelling met emigrasie, is semigrasie voordelig vir ons land, aangesien minder geleerde en gegoede individue die land verlaat en die ekonomie nie ly soos in die geval van emigrasie nie. Eiendompryse in die Wes-Kaap het van 2011 tot 2016 met 13.4% gestyg.
Semigrasie is ongelukkig nie net ‘n rooskleurige tendens nie. Probleme soos druk op die provinsie se infrastruktuur, ‘n groter verlies aan water en ‘n hoër elektrisiteitslading plaas tog ‘n demper op die Kaap met sy nuwe inwoners.
So besluit gerus self of jy in die Goudstad met sy gruwels wil bly of wil semigreer na ‘n windverwaaide wolf wat in branders baljaar. Oos Wes, Tuis Bes…
Comentários