Die strepe maak mos die tier, of hoe?
- Shane Lottriet
- Oct 30, 2017
- 2 min read

Die mens is ‘n hiërargiese spesie en sit baie klem op sosiale status, of dit nou geërf of verdien word. Hierdie invloed strek oor verskeie aspekte van ons lewens nl. in die werksplek, die regering en natuurlik by die skool.
Helpmekaar Kollege het sy eie skeidings- of beloningstelsel wat dien as ‘n poging om leerders te motiveer om in die verskeie aktiwiteite waarin hulle deelneem, te presteer nl. erekleure. Leerders moet aan sekere kriterias voldoen vir hul aktiwiteite wat jaarliks dienooreenkomstig hersien word. Vir die seniors word hierdie beloning toegeken in die vorm van ‘n wit en bruin gestreepte skoolbaadjie i.p.v. die tradisionele bruin baadjie, en aan juniors word ‘n spesiale skoolwapen gegee totdat hulle uiteindelik die seniorfase bereik.
Maar soos met elke stelsel ontstaan daar probleme en dit word al hoe meer ooglopend in die skool. Die kinders noem dit “witbaadjie-koors” en verwys na die selfgesentreerdheid wat sommige van die kinders ontwikkel wanneer hulle hul erekleure ontvang. Somtyds word daar ‘n gevoel van eksklusiwiteit onder die leerders geskep en leerders wat nie daarin slaag om ‘n erekleure-baadjie te kry nie, voel minderwaardig.
Volgens ‘n leerder wat verkies om anoniem te bly, het al sy vriende behalwe hy erekleure en vir hom voel dit asof hy soms nie deel van die “groep” is nie. Bo en behalwe die ekslusiewe “klubs” wat onder die leerders geskep word, voel sommige mense of die beoordelingstelsel nie regverdig is nie. Juffrou Maricien Maritz meen dat kinders op verskillende gebiede presteer, en wonder soms hoekom ‘n leerder wat akademies sterk is 3 jaar hard moet werk vir hulle erekleure, as ‘n rugbyspeler sy kleure kry die jaar waarin sy span die Beeld Trofee-finale haal.
In ‘n steekproef onder 50 leerders, het ek bevind dat 19 van die leerders voel dat dit nodig is en slegs 4 uit die 20 onderwysers sien die waarde in die gebruik van die erekleure-stelsel.
Dalk het dit tyd geword om met 'n nuwe bril na die gestreepte baadjie te kyk.
Comments