Debatsvraag: Bestuurslisensie op 16? Ja, dit kweek verantwoordelike volwassenes
- Marco van Staden
- Oct 30, 2017
- 2 min read

Op 16-jarige ouderdom kan ‘n persoon ‘n Suid-Afrikaanse ID bekom. Die jong volwassene kan ‘n bankrekening open en sy eie finansies bestuur. Verder kan ‘n 16-jarige met ‘n graad 9-kwalifikasie die skool verlaat en die arbeidsmag betree. Hierdie is goeie voorbeelde dat ‘n persoon op 16-jarige ouderdom as ‘n verantwoordelike jong volwassene bestempel word.
Tog kan ‘n 16-jarige nie tans self na binnelandse sake, bank toe of werk toe ry nie.
Deel van hierdie regte en verantwoordelikhede behoort ‘n bestuurslisensie te wees. 16-jariges kan met die regte opleiding en oefening net so veilig bestuur soos hul mede-landsburgers.
In ‘n artikel in die Chicago Tribune van September 2008, skryf die verslaggewer, Ted Gregory, om tieners te verhoed om te bestuur omdat ongelukke ‘n risiko is, is dieselfde as om ‘n kind nooit te laat swem nie, want daar is ‘n moontlikheid dat die kind kan verdrink. Dit is dus belangrik om, soos ‘n ouer ‘n baba leer swem, die tiener te onderrig en toe te rus. Die artikel beweer ook dat die bestuursvermoë nie bepaal word deur ouderdom nie, maar deur oefening en opleiding. Dus kan 16-jariges veilig op die pad bestuur en 16-jariges se reaksies is tog sekerlik flinker as 60-jariges?
Hierdie ouderdomsgroep het ook baie sosiale geleenthede en neem aan vele sportaktiwiteite deel wat beteken dat hul ‘n groot behoefte aan mobiliteit het. Dit is dus ‘n praktiese oorweging dat hierdie jong volwassenes self kan kom waar hulle moet wees en nie rond karwei word deur ouers of ouer mense nie. Alhoewel die gebruik van openbare vervoer die groot las op Suid-Afrika se groeiende veroerprobleem sal verlig, is dit nie oral beskikbaar nie. Indien hul van die Gautrein gebruik maak, moet 16-jariges tog ook oor ‘n bestuurslisensie beskik om self tot by die Gautreinstasie of –busstop te kan ry.
In die lig van bogenoemde feite is dit duidelik dat die bestuurslisensie ouderdom beslis verlaag moet word na 16-jaar.
Comments