top of page

‘n Man van woord en daad

  • Aleida de Bruyn
  • Oct 30, 2017
  • 2 min read

Voormalige Flitse redakteur, Jacques Peacock. Foto verskaf deur Kristi Steyn.

Redakteur, redenaar, debatteerder, regisseur, akteur, koorsanger, kultuur-onderhoofseun…

Jacques Peacock het dit laat lyk of hy 25 uur in elke dag het, boonop met kalmte en sy kenmerkende breë glimlag. Hy is ‘n man wat ‘n slag kan slaan, 'n man wat diep voetspore by Helpmekaar agterlaat.

By die onlangse matriekgradueringseremonie ontvang Jacques die prys vir kultuurseun van die jaar en word een van vyf Helpies wat in 2017 met die gesogte erewapen bekroon word.

Sy motto is om met goeie organisasie en fyn beplanning kop bo water te hou. Jacques sê: “Ek moes leer om nie te skarrel nie. Dit help nie mens probeer vinniger as die mense om jou werk nie, want dan glip foute in. Solank mens dit wat jy doen geniet, sal daar genoeg tyd wees vir alles!” Oor watter veld sy gunsteling is, moes hy bietjie kopkrap. Hy reken dat kultuur aktiwiteite die beste manier is om met jou gehoor te kommunikeer om so mense te bereik, maar sy besondere liefde vir teater skemer altyd deur.

Die hoogtepunt van sy hoërskoolloopbaan was om die regisseur van die tienertoneel, “Hartskelder”, te wees. Hier het hy sy passie vir die teater uitgeleef. So is die Teatrum Festum-fees ook gebore: in 2015 het hy gevoel dat Helpies se tienertonele in ‘n vriendelike omgewing op die planke gebring moet word omdat die stres van al die kompetisies soms die "lekker" van teater oorheers. Daarom het hy in oorleg met juffrou Linda van Niekerk besluit om die fees te begin en om dié toneelstukke in die graad 9 - 11's se Drama-sillabusse in te werk, om sodoende hul oog vir dramatiese ontleding te slyp.

Jacques het in graad 1 ontdek dat hy kan práát, en het by die landsfinale van die ATKV redenaars en -debat ‘n bekende gesig geword. Vandat hy Josef in die kersspel in graad R was, het hy nooit weer die verhoog verlaat nie.

Goeie koffie is sy brandstof en sjokolade sy groente, alhoewel hy vinnig byvoeg dat hy sy ma se lekker kosblikke deur sy skoolloopbaan baie waardeer het. Hy studeer volgende jaar Regte aan die Universiteit van Pretoria, gepas vir ‘n man wat sy sê kan sê. Onder sy leiding het dieredaksiespan van die Helpie-flitse van krag tot krag gegaan, en sy fokus op die visuele ontwerp en die slyping van die eindproduk, het ‘n koerant produseer wat Helpmekaar trots gemaak het. Die Helpie-flitse ryg die pryse in die skoolkoerantkompetisie in: die gedrukte koerant wen vir die 2016/17- nuusjaar provinsiaal Goud en nasionaal Brons en die digitale koerant behaal provinsiaal Goud en nasionaal Silwer.

Helpmekaar groet jou, Jacques. Jy sal onthou word as ‘n man van woord en daad.


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page