top of page

Wetenskapboffins

  • Aleida de Bruyn
  • Oct 30, 2017
  • 1 min read

Alle Graad 10-Helpies wat Fisiese Wetenskap neem, weet wat op hulle wag: ‘n verpligte Wetenskap Ekspo taak. Dié taak dra in termyn twee die gewig van ‘n termyntoets, en die mees innoverende Helpies word gekies om aan die distrikskompetisie deel te neem.

Frik Coetzer by die Wetenskap Ekspo. Foto verskaf deur Frik Coetzer.

Tydens die distrikskompetisie het die volgende Helpies medaljes ontvang: Doné Grové en Jamie Green (Brons); Elrich Veldman en Helene Agenbag (Silwer) en Goud is aan Elisabeth Viljoen, Emmerentia van Coller, Luan Swart, Kyle Smith en Frik Coetzer toegeken. Kristi Steyn het ‘n goue medalje verower en was ook ‘n spesiale pryswenner.

Na verdere onderhoude het 5 Helpies deurgedring na die International Science Fair: Luan Swart en Kyle Smith het ‘n brons medalje gewen met hul bewegings-sensitiewe lessenaarlampie, Elisabeth Viljoen en Emmerentia van Coller Silwer met hul “Pool bug”-projek (‘n sonaangedrewe swembadskoonmaker) en Frik Coetzer goud met sy projek oor die onttrekking van atmosferiese waterdamp vir huishoudelike gebruik.

Om tot op internasionale vlak te vorder en te presteer, het baie harde werk en ekstra ure van hierdie Helpies geverg. Luan Swart vertel dat die International Science Fair die grootste wetenskap ekspo in Afrika is, en dat die standaard baie hoog was. Emmerantia Van Coller sê dat sy en spanmaat, Elisabeth Viljoen, reeds in Februarie aan hulle projek begin werk het. Sy en Luan meen dat al die ure se werk meer as die moeite werd was en dat die interaksie met nuwe mense en deelname aan die International Science Fair ‘n onvergeetlike ervaring was.

Graad 9-Helpies kan gerus solank hul wetenskap-bril opsit, dalk is een van julle die volgende groot uitvinder by die Wetenskap Ekspo in 2018.


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page