top of page

Helpies tennis slaan wenners

  • Danielle Brink
  • Oct 30, 2017
  • 2 min read

Gedurende die eerste week na die Augustus-vakansie, is die 5de Bethlehem-tennistoernooi vir hoërskole aangebied. Die toernooi word in die Vrystaatse dorpie, Bethlehem, gehou. Helpmekaar se tennisspanne was al by die vorige toernooie betrokke, maar het die afgelope paar jaar eers begin om bekers na die bruin reus op die bult terug te bring. Helpie-tennis is besig om merkwaardige vooruitgang te maak. Hier is hoe dit gedoen word:

Helpmekaar se kranige tennisspelers in 'n ligte luim by die jaarlikse Bethlehem tennistoernooi. Foto verskaf deur Danielle Brink.

5 jaar gelede was daar nie eers ’n amptelike tennis-afrigter, of gereelde tennis-oefentye vir die tennis-spelers by die skool nie. Na die afrigters aangestel is en ’n oefenprogram vir die spelers by die skool beskikbaar gestel is, het die meisiespanne die afgelope 2 jaar vir die nommer 1 posisie in die liga uitgespeel. Soos wat die skool beter spelers trek, en spelers deur interne kompetisie verbeter, neem die diepte in die spanne toe, en behaal al die spanne beter resultate.

Ons top 4 tennismeisies in die skool is Jessica Portwig, Mieke van Deventer, Anique Engelbrecht en Christine Gouws. Hierdie dames het almal gedurende die Augustus-vakansie aan toernooie en oefenkampe oorsee deelgeneem. Jessica, Mieke en Christine was in Duitsland en Anique in Spanje. Met hierdie meisies bo-aan Helpmekaar se tennisrang, is dit onmoontlik om Helpmekaar te stop, en dit is ook in die uitslae sigbaar.

Die tennisseuns speel ook hulle weg oop in hierdie jaar se Bethlehem-toernooi. Die A-span het 2de geëindig in die A-afdeling teen Curro, terwyl die B- en C-span teen mekaar in die finaal van die B-afdeling gespeel het. Soos wat mens sou verwag, het die B-span die trofee gewen, maar die C-span het ook met kontantpryse weggestap.

Deur die noukeurige beplanning en harde oefening, is Helpmekaar vinnig besig om die leer in die tenniswêreld te klim. Daar is meer aan die Helpie-tennismense as net uitmuntende uitslae. Dis ’n gawe klomp mense by wie jy sommer gou tuis voel. Ja, hulle het baie van die Helpie-gees!


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page