Helpies saal die regte perd op
- Aleida de Bruyn
- Oct 30, 2017
- 2 min read
Die nasionale ruitersportkompetisie het van 2 tot 7 Oktober in Kyalami Equestrian Park plaasgevind. Die Helpmekaar-ruitersportspan het 4de in Gauteng en 7de in die nasionale kompetisie geëindig.
Helpmekaar het vanjaar 7 ruiters opgelewer wat almal provinsiale kleure verwerf het Hulle het dan ook aan die nasionale kompetisie deelgeneem. Tydens die nasionale kompetisie het die ruiters die volgende plekke behaal: Milé Pienaar (4de plek), Saskia Bowman, Lee-Ann Minnie en Carami van der Vyver (7de plekke); Liezl Venter (5de plek) en Marika Riga (13de en 19de plek).
Ons bobaasruiter, Michaela Janse van Rensburg, het puik presteer met 3 eerste plekke, 2 tweede plekke, 2 derde plekke, 1 vierde plek en 2 vyfde plekke. Sy word aangewys as die Top Ruiter in Gauteng en beklee 3 plekke in die Top 10-ranglys. Sy behaal ook die 4de en 7de plek op die Nasionale Ranglys vir Hoërskole.
Helpmekaar-ruiters neem deel in die enigste goedgekeurde liga waarin die skole mag deelneem, naamlik SANESA (South African National Equestrain School Association). Die Helpies neem aan die volgende dissiplines deel: SA Showjumping, SA Dressage, Equitation SA, Eventing SA, Mounted Archery SA, Western Riding SA, Showing SA, ERASA (Endurance), asook SA Saddleseat. SANESA se hoofdoel is om die Ruitersport vir alle leerlinge in Suid-Afrika so toeganklik en bekostigbaar moontlik te maak. Dit sluit ook ruiters met spesiale behoeftes in.
Ruiters kompeteer nie in ouderdomskategorieë nie, maar in vaardigheidsvlakke om voorsiening te maak vir ruiters wat op ‘n latere ouderdom begin kompeteer. Alle ruiters word so geakkommodeer en dis nooit te laat om dié sport op te neem nie. Die nasionale byeenkoms in Oktober elke jaar is die grootste perdrykompetisie van sy soort in Suid-Afrika, met ongeveer 2500 inskrywings en meer as 1000 perde en ponies wat van regoor die land kom deelneem in sewe vaardigheidsvlakke met meer as 52 klasse per vlak.

Ruitersport verg baie tyd en dissipline van die deelnemers, en die toewyding en opoffering van die Helpie-ruiters het puik resultate gelewer.
Puik ruiters, puik prestasies, ons Helpie-ruiters saal beslis die regte perd op.
Comments