top of page

Netbal sit die net in "net die beste"

  • Rynhard de Bruyn en Jacques Peacock
  • Sep 28, 2017
  • 3 min read

Netbal sit die net in “ net die beste”

Juf. Linda Peacock met haar eerstespan wat Linden 25 - 7 gewen het. Foto verskaf deur Heike Edeling.

Helpmekaar se netbal is tans in ‘n indrukwekkende groeifase; uitslae hierdie jaar het alle verwagtinge oortref. Helpmekaar se eerstespan het vir hulle ‘n plek in die Helpie-geskiedenisboeke losgedoel en het Linden, Monument, Noordheuwel én Menlopark gewen.

Die ligawedstryde dié jaar het alle verwagtinge oortref. Na sewe ligawedstryde teen opponente soos Linden, Florida, Trinity House, Riebeeckrand en Randburg het beide die eerstespan en die o.14’s as ligawenners uit die stryd getree. Dit kom ná ‘n effektiewe opwarmingsessie by die Waterkloof Netbalfees, waar daar altesame 65 wedstryde deur ons spanne gespeel is. Wat dit nog meer indrukwekkend maak, is Helpmekaar wat kon kers vashou met superskole wat oor die afgelope paar dekades die netbalkader oorheers het.

Vriendskaplike wedstryde was egter ook aan die orde van die dag en Helpmekaar het hier opspraakwekkende uitslae opgelewer, al was daar niks meer as hul reputasie op die spel nie. Al het hulle na ‘n intense stryd teen meer ervare Pretoria-skole soos die Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria en Hoërskool Eldoraigne in hul eerste twee wedstryde van die seisoen verloor, het hul opspraakwekkende oorwinning van 24-14 teen Hoërskool Waterkloof se eerstespan op 27 Mei 2017 ‘n opskudding onder netbalkringe veroorsaak. Kaylen Jansen, kaptein van die eerstespan sê “ Ek was trots verby. Ek het net vreugde in my hart gehad, want ons het verskriklik hard gewerk.”

Later het Helpmekaar ook aan die Gauteng-provinsiale kampioenskappe deelgeneem, waarin al vier van Helpmekaar se A-spanne gewedywer het om die boonste posisies in Gauteng te behaal. Die o.14-span onder leiding van Me. Louise Hattingh het na ‘n intense stryd teen Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria tweede in Gauteng geëindig, en het hiermee gekwalifiseer vir deelname aan die Nasionale Kampioenskap. Juf. Louise sê die emosies het hoog geloop en die prestasie was ag gevolg van volgehoue harde werk en deursettingsvermoë. Verder meen sy dat Helpie-netbal so goed doen omdat elke afrigter se hart vir Helpmekaar-netbal klop.

Die o.16’s het vyfde in Gauteng geëindig, terwyl die 0.17’s en eerstepan ‘n algehele sewende plek in Gauteng behaal het. Daar is ook geen twyfel dat Helpmekaar se netbal op provinsiale vlak kan kers vashou nie. Ons spelers wat provinsiale spanne gehaal het is: Jaydene Swart (o.14) en Nicolette Bezuidenhoudt (o.16) wat Gauteng tydens die All Ages Nasionale Netbalkampioenskap verteenwoordig het.

Wat egter opvallend is, is die teenstrydigheid tussen spanprestasie en individuele prestasie onder Helpmekaar se netbalspelers, wat mens laat wonder wat die keuringskriteria en -omstandighede in Gauteng is.

Helpmekaar is ‘n relatiewe buitestander in die kompeterende netbalskoolligas, beide oor sy status as IEB-skool en die feit dat Helpmekaar as netbalskool nog in sy kinderskoene is en nie gereken word as top-netbalskool in Gauteng nie.

Volgens SA Schools Netball se webtuiste bestaan die keuringsproses vir provinsiale spanne uit twee rondtes nadat die aanvanklike keuring by die All Ages-toernooi deur die waarneming van keurders gedoen word: naamlik waarneming tydens voorlopige provinsiale deelname, waarna daar ‘n groep van 35 aangekondig word tussen wie formele proewewedstryde gespeel word en finale keuring plaasvind.

Alhoewel Helpmekaar se eerstespan vanjaar kompeterend was met die histories sterkste netbalskole en uitstekend vaar teen strawwe opponente, is daar nie een enkele Helpmekaar seniordogter in die Gautengnetbalspan ingesluit nie.

Nieteenstaande kan die Gautengliga volgende jaar ‘n sterker, beter en nog meer gedrewe groep Helpmekaar netbalspelers verwag. Helpie-toeskouers kan gerus in hul hordes opdaag om netbal te kyk; die vinnige pas en puik Helpie-netbalspelers sorg vir ‘n baie opwindende kykervaring, omdat daar net een rigting is waarin Helpmekaar groei.


Комментарии


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page