Vra die manne!
- Marco van Staden
- Jul 20, 2017
- 2 min read
Muurbal - Tussen hierdie vier mure.

Muurbal is ‘n sosiale sport wat vriende saam kan geniet. Dit is wat Stefan Meyer, ‘n matriek muurbalster, van hierdie sport sȇ. Hierdie is een van die vinnigste groeiende sportsoorte in Helpmekaar. Stefan getuig dat die spel inspanning en oefening vereis en sy raad aan aspirante muurbalspelers is om net te begin en om dit saam met vriende te speel. Stefan se raad aan muurbalafrigters is om dié sport meer te bemark. Hy voel dat min leerders weet wat die sport behels en daarom neem hulle (nog) nie deel nie.
Skaak - Van pion tot koning Strategie, beplanning en adrenalien.

Dit is die kenmerke van enige goeie skaakspel. Rynhard de Bruyn, ‘n matriekleerder en skaakspeler, is van mening dat om jou opponent in skaakmat te sit, meer vereis as om net te speel. Hierdie ervare skaakspeler se raad aan voornemende skaakspelers is om beskeie te bly en om bewus te wees van die konsentrasie en oefening wat die sport vereis. Sy raad aan skaakafrigters is om die spelers te ondersteun ongeag die resultate van hul wedstryde.
Duik - Diep, dieper, duik.

Helpmekaar se duiktoer groei elke jaar en sorg vir baie opwinding. Dylan Strydom, ‘n matriekduiker, beweer dat hierdie een van die beste toere is wat die skool aanbied. Hy glo dat dit ‘n belewenis is wat elke leerder moet ervaar. Sy raad aan nuwe duikers is om die duikkursus te voltooi om die vaardigheid onder die knie te hȇ teen die tyd wat die toer begin. Hy glo dat die reëlings van die toer én die onderwysers op hierdie toer onverbeterlik is.
Iets vir die oog.

Die Helpie-manne is dit eens dat die beste meisiesport-prestasie van die jaar die eerstespan-netbal se stoomroller vertonings tydens die liga was. Nie net het hulle gesorg vir iets vir die oog nie, maar met oortuigende wenuitslae teen makroskole soos Waterkloof en Noordheuwel, het Juf. Linda en haar span ook gesorg vir uitstekende sportvermaak.
Comments