Goedkoper as Ma se kosblik?
- Jenna Beukes
- Jul 22, 2017
- 1 min read
Die bekende ‘Meal of the Day’ wat aan die begin van die jaar sy verskyning by die Helpmekaar-snoepie gemaak het, is ‘n reuse sukses. Menige Helpie is van mening dat die R35 wat hulle vir dié ete moet opdok heel billik is, maar is dit regtig goedkoper as die kosblik wat Mamma (hopelik) met sorg gepak het?
As jy ‘n basiese som maak, werk die etes jou R175 per week uit - R225 met ‘n koeldrank. ‘n Gemiddelde kosblik wat net ‘n broodjie, ‘n vrug en ‘n peuselhappie bevat, kos jou tussen R35 en R40 per dag.
‘n Kosblik se inhoud is gewoonlik genoeg vir die hele eerste pouse en helfte van tweede pouse, maar Helpies stuur ook soms hul kosblikke onaangeraak terug huis toe. Helpies wat tydens pouse die ‘Meal of the Day’ koop word forseer om dit klaar te eet, want eerstens wil hulle nie daarmee rondloop nie en tweedens is daar net genoeg geld vir een porsie. Dus word daar nie ‘n dag se ‘kosgeld’ gemors deur ‘n ‘Meal of the Day’ te koop nie.
Tweedens kan daar na die kwaliteit van die kos gekyk word. Dit is baie maklik om jou neus op te trek vir die inhoud van jou kosblik, veral as dit bederf raak tydens ‘n warm dag. Die ‘Meal of the Day’ is egter vars en weeg op teen ‘n tuisgemaakte warm bord kos.
Alhoewel ‘n kosblik en ‘Meal of the Day’ dieselfde prys het, word kosblik-inhoud baie meer gemors. Die ‘Meal of the Day’ gee waarde vir geld en is daarom goedkoper as ‘n gepakte kosblik.
Comentarios