top of page

Die vere (of afwesigheid daarvan) maak die voël

  • Rynhard de Bruyn
  • Jul 22, 2017
  • 2 min read

Wil jy uitstaan of netjies wegsmelt in die massa? Pas jy gemaklik in die boks? Voel jy tuis in die vere wat die gemeenskap laat gemaklik voel? Veroordeel jy iemand wat buite die boks woon? Mis jy uit op interessante mense omdat hulle anders as jy lyk?

Ek het in die vorige Desembervakansie besluit om my hare blou te kleur. Hoekom? Want ek wou nog altyd sien hoe ek gaan lyk met blou hare. Blou is vir my mooi, my oë is blou en ja, ek woon gemaklik buite die boks.

Wat ek nou weet, en nie toe geweet het nie, is dat blou hare dooie hare is sodra die blou verdof/uitwas. Oplossing: skeer al die blou hare af. Potensiële probleem: ‘n kaal kop. Ek het toevallig toe nie ‘n onaardige kopvorm nie, my sjampoe hou ongelooflik lank, dis lekker koel (onthou die sonskerm) en ek kan my stortuur halveer.

Terug by die skool is ek voëlvry verklaar; ‘n kaalkop? Ag nee, Rynhard. Skielik voel ek hoe dit voel as mens die voël (jammer vir die grafiese beeldspraak) (ver)oordeel aan sy vere of eerder die afwesigheid daarvan.

Senior burgers frons en klik tonge, mense is skielik óf versigtig vir my óf kry my vreeslik jammer. My kaalkop rakel beelde van jeugdiges wat amok maak in Oos-Europa op, en ek kan net verwonderd staan. Dis nog steeds ek, ek is nog steeds gefokus op my toekomsplanne, al wat verander het is dat ek nie meer hare het nie. Ek het nog nooit vere gevoel as dit by akademie of my doelwitte kom nie.

Ek moet byvoeg dat ek van my mede-Helpies (diegene wat nie te bang is om met die ongeveerde voël te praat nie) net positiewe terugvoer gekry het. Wat my opgeval het, was dat my kaalkop skielik openbare besit was, nes ‘n swanger vrou se bababoepie: mense vryf toe onophoudelik my kop. Ek is nog nooit so baie aangeraak nie, en dis nie net my ma en sussie nie. Wat my laat skater, is hoe gou mense (ver)oordeel.

Ek werk daaraan om almal binne die boks te aanvaar omdat hulle vir my net so vreemd is as ek vir hulle; maar ons almal moet probeer om die hand van konvensie voor ons oë weg te vat; want die kaalkoppe daaragter is maar net gewone, lekker, soms vol nonsens, interessante mense wat dalk jou lewe kan verryk.

Praat vandag met ‘n “kaalkop” wat jou pad kruis, die vere maak nie altyd die voël nie.


コメント


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page