Die Odeon is óns plek
- Jana Basson
- Jul 22, 2017
- 1 min read
As ‘n mens by Helpmekaar indraai, is daar ‘ n nuwe imposante twee-verdieping staalkonstruksie met ‘n uitsig wat begin by die rugbyveld en oor ‘n merkwaardige deel van Johannesburg strek: die Odeon. Die gebou, wat deur LVM Argitekte ontwerp is, het uiteenlopende funksies en kan deur elke Helpie benut word.

Juf. Rika la Grange, kunsghoeroe van Helpmekaar, is van mening dat alhoewel die skoon lyne en argitektuur nuwerwets is, dit nogtans by die res van die skool se minimalistiese atmosfeer pas. Sy glo ook dit bring ‘ n vars en skoon estetika aan die ingang van die skool en dat dit innovering en vooruitgang simboliseer.
Die woord ‘ Odeon’ het ‘ n Griekse herkoms en beteken “gebou vir musikale opvoerings”. Die feit dat die naam kultuuraktiwiteite verteenwoordig én dat die gebou langs die rugbyveld geleë is, beklemtoon die gebou se multifunksionele doel.
In die paar maande sedert die Odeon in gebruik geneem is, is dit onder andere gebruik vir produksieoefeninge, direksievergaderings en die eersterugbyspan se jaarlikse trui-oorhandigingseremonie. Juf. Linda van Niekerk, bemarkingshoof, sê dat die jaarlike kunsuitstalling ook hier gehou gaan word en dat die gebou alles behalwe net ‘ n versiering van die rugbyveld is. Die skool se innovasiedepartement sal ook in die derde termyn na die Odeon verskuif om die gebou só optimaal te benut.
Mnr. Klaus König beskryf die gebou as “Helpmekaar se plek”, want die Odeon bied iets vir almal.
Comments