top of page

Algemene Kennis – wat weet jy?

  • James Clarke
  • Jul 23, 2017
  • 2 min read

Op Donderdag 25 Mei is die Helpies gekonfronteer met die groot gelykmaker waarvoor niemand regtig kan voorberei nie: die Algemene Kennis-olimpiade. Dit is die een geleentheid waartydens jou sportvaardighede, óf jou studievaardighede, NIE jou sukses gaan verseker nie, maar eerder hoe ingelig jy is aangaande die gebeure en geskiedenis van die wêreld.

Vanjaar se kompetisie het weereens bewys dat die leerders van Empire, Melle en Smuts heel goed ingelig is, met Empire as die huis met die skerpste graad agts; Smuts as die huis met die mees ingeligte graad elfs en juniors in totaal; en Melle as die wenhuis met die beste algemene kennis vir seniors oor die algemeen.

Volgens juffrou Clare Grové, organiseerder van die geleentheid, sal die individuele uitslae van die Algemene Kennis-olimpiade egter eers in Julie aan skole gestuur word.

Deelname aan ‘n Algemene Kennis-olimpiade het ten doel om deelnemers bewus te maak van die mate waartoe hulle ingelig is oor die wêreld en dit wat rondom hulle aangaan, meen Juf. Clare. Sy vertel dat ‘n goeie algemene kennis tot voordeel strek van elke individu. Omdat mense verskillende belangstellings het, stel ‘n goeie algemene kennis jou daartoe in staat om kers vas te hou en sinvol deel te neem aan enige geselskap.

Jaar na jaar neem Helpies benoud deel aan hierdie olimpiade. Daar is wel hoop vir dié wat volgende jaar beter wil presteer. Juf. Clare beveel aan dat die beste voorbereiding vir die olimpiade by lees begin.

Dit sal beslis ook help as jy met verskillende mense netwerk, die nuus volg en oefen om jou eie opinies te vorm. Lees bly egter die belangrikste bron van ‘n goeie algemene kennis. Lees alles wat voorkom: tydskrifte, koerante, fiksie, koerantopskrifte langs die pad en selfs Chappie-papiertjies, meen Juf. Clare. ‘n Persoon met ‘n goeie algemene kennis bly op hoogte van sleutelgebeure en die uitkoms daarvan–‘n eienskap wat vir elkeen lewenslank voordeel kan inhou.

Die Algemene Kennis-olimpiade weerspieël tot watter graad ‘n skool se kinders honger vir boeke, inligting, en algehele intelligensie. Tog is daar ‘n mate van kans: lees die regte, relevante dinge raak en jy kan goed presteer. Daar kan dus slegs voorspellings gemaak word rakende die ligging van Helpmekaar op die Algemene Kennis-ranglys, maar soos Mnr König self al gesê het, is die Helpies tot baie dinge instaat, waarvan ingeligtheid definitief een is.


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page