“Detensie 101”– alles behalwe ‘n straf!
- James Clarke
- Jul 23, 2017
- 1 min read

“Detensie 101”, Helpmekaar se eerste musiekblyspel wat op die 9de en 10de Junie in die Aula gehou is, was ‘n reuse sukses danksy die leiding van Oud-Helpie Tiaan Nortje en die skool se orkesdirigent, Peter Mclea.
Tiaan, wat in 2015 gematrikuleer het, het die toneel gebaseer op die fliek “The Breakfast Club”, wat kommentaar lewer op tieners wat gekategoriseer word, en hoe hul identiteite nie noodwendig met hul uiterlike voorkoms ooreenstem nie. Hy was ook verantwoordelik vir die oorspronklike lirieke waarmee ‘n span van bekwame akteurs ‘n Broadway-vergelykbare vertoning gelewer het, met veelsydige karakters en ware tiener-houdings wat skrik vir niks.
Die musiek is deur Peter Mclea geskryf, en die orkes, onder leiding van Gustav Klingbiel, het musiek bygedra wat die gehoor laat juig het vir ‘n “encore”. Die orkes het elke Vrydag sedert die begin van die tweede termyn geoefen, en hul opvoering het hulle gevorderde musikale talent onderskryf. Alhoewel hulle nooit in die kollig was nie, het hulle elke handeklap verdien.
Die karakters was rou en eg en die gehoor het regdeur die produksie geleenthede gehad om elke karakter “agter die uniform” te leer ken. Die briljante toneelspel van die Helpies was verstommend en verfrissend en het almal vasgenael op hulle stoele gehad. ‘n Mens kan amper jammer voel vir die akteurs wat volgende jaar in hierdie toneelgroep se voetspore moet volg...

Comments