top of page

Van weet tot verstaan

  • Klaus König
  • Jul 22, 2017
  • 2 min read

Mnr. König op sy Triumph TigerXC. Fotot geneem deur Gustav Klingbiel.

Daar is 'n ou versie wat lui: "Van weet tot verstaan, moes ek deur die dal van doodskadu gaan." Partykeer is hierdie proses pynlik en neem dit tyd. Maar dit leer 'n mens genade: vir ander en ook vir jouself. Al stop jy jou kop propvol kennis, kry feite eers waarde wanneer jy dit verstaan. Só werk dit met akademie en só werk dit ook in die lewe. Almal het seker al in 'n eksamen 'n paniekerige oomblik van waarheid beleef. Jy het ure en ure geswoeg om biologie-feite te memoriseer, om wiskunde-bewerkings te leer, om definisies woord vir woord te kan neerskryf.

En dan sit jy in die toets: jy lees die vraag, jy ken die werk, maar jy weet glad nie waar om te begin nie. Koue sweet slaan op jou voorkop uit. Dit beteken waarskynlik jy het die kennis, maar nog nie die begrip nie.

En sonder begrip, kan daar ook nie insig wees nie ... daardie ellendige "hoërdenkorde-vrae" waarop die IEB so roem! Begrip is ook die sleutel tot insig en wysheid in menseverhoudings. Baie mense ken jou, maar hoeveel van hulle verstaan jou regtig? En hoe goed verstaan jy die mense rondom jou?

Die spreekwoord sê jy moet eers 'n myl in iemand se skoene loop, voordat jy hom of haar werklik kan begryp. Harper Lee, die skrywer van "To Kill a Mockingbird", reken jy sal mense nooit kan verstaan totdat jy die lewe deur hulle oë gesien het nie. Eers dan sal jy nie meer kritiseer of veroordeel nie.

"Knowledge comes from learning. Wisdom comes from living," aldus die skrywer Anthony Williams. Wees geduldig, liewe Helpie, ook jy sal mettertyd groei van kennis tot wysheid, van weet tot verstaan.


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page