Trotse tradisie lyf nuwe spoggebou in
- Ruben Coetzer
- Jul 22, 2017
- 2 min read

Op Saterdag, 27 Mei 2017, het Helpmekaar die tweede nuwe gebou hierdie jaar aan die skool bekendgestel: die Odeon. Die Odeon is ‘n multi-funksionele, moderne staalgebou agter die hoofpawiljoen waar die eersterugbyspan se ou kleedkamers was.
Die Odeon bestaan nie net uit nuwe kleedkamers vir die eersterugbyspan nie, maar ook uit publieke toilette, ‘ n toilet vir gestremdes, ‘ n innovasie-sentrum, ‘ n kombuis, die krieketakademie-kantoor, stoorruimte en ‘ n oop ruimte op die dak. Die oop ruimte op die dak spog met ‘ n ryk panoramiese uitsig oor die Noorde van Johannesburg en sal gebruik word vir onder meer spanpraatjies en produksieoefeninge.
Die opening van die Odeon het saamgeval met die eerste-rugbyspan se jaarlikse Trui-oorhandigingseremonie waartydens die Bruin Trui-helde saam met hul pa’s en Oud-Helpies vereer is. Japie Mulder, wat as senter vir die Springhokke gespeel het (1994 – 2001), het as seremoniemeester ‘ n paar van sy beste herinneringe as Springbok met die gehoor gedeel en beskryf hoe wonderlik dit vir hom was om die Wêreldbeker in die lug op te hou.
Ewan Botha en Izak van der Watt, wat self die voorreg gehad het om die Bruin Trui oor hul koppe te trek (1998 – 1999), het gesê dat die Odeon die trots van Helpmekaar weerspieël en dat die tradisies van die eerstespan nog lank in die nuwe kleedkamers sal voortbou.
Nog ‘ n Oud-Helpie eerstespanspeler, Towes Pierce (2006 - 2007), het gesê: “Die Odeon voeg waarde tot ‘ n wengees toe.”
Die Odeon skep aan Helpies die geleentheid om hulself sportief, akademies en kultureel te verryk en skep ‘ n topklas beeld by die publiek.
Comentarios