top of page

Studente keer hokkiespelers vas

  • Carmine van der Westhuizen
  • Jul 22, 2017
  • 2 min read

Op Donderdag 4 Mei 2017 is die Helpie-hokkiemeisies en-hokkieseuns vasgevang op die sportgronde van die Universiteit van die Witwatersrand as gevo lg van ‘n protesaksie deur Wits-studente.

Volgens Clara Pretorius (graad 11), ‘n eerstespan-hokkiespeelster, het die studente die hekke gesluit en geweier dat enige voertuie in of uit die terrein kon beweeg . Sy vertel verder dat die studente letterlik voor die hekke gaan sit het en aanvanklik nie ‘n uitsondering wou maak vir die Helpmekaar-busse om die terrein te verlaat nie. Dit het daartoe gelei dat die hokkiemeisies vasgekeer was op Wits se sportgronde na oefening en die hokkieseuns noodgedwonge hulle oefening moes kanselleer.

Te danke aan mnr. König wat op die toneel opgedaag het, kon daar onderhandel word sodat ten minste een bus met die meisies die terrein kon verlaat. Die seuns se uittog was ‘n bietjie meer avontuurlustig: hulle moes deur ‘n gat in die heining klim om die bus te bereik wat hulle veilig terug skool toe sou neem. Die onderwysers se karre moes noodgedwonge op Wits se sportgronde agterbly.

Theo van Zyl (graad 11), eerstespan-hokkiespeler, is dankbaar dat mnr. König op die toneel opgedaag het en die saak suksesvol hanteer het. Daar was ook baie onderwysers van Helpmekaar wat die hokkiespelers kon leiding gee van waarheen hulle moet gaan en kon almal rustig hou. Volgens hom was die Helpie-onnies almal koelkop en kalm en het daarin geslaag om die hokkiespelers kalm te hou. Hy vertel verder dat hy al vir vier jaar op Wits se sportgronde oefen en dat dit die eerste keer is dat daar só ‘n situasie ontstaan het.

Die aksie was gerig as protes teen die diskriminasie teen Venda-mense. Clara Pretorius vertel dat die studente gedans, gesing en die asblikke omgegooi het, maar glad nie gewelddadig was nie en ook nie wapens gehad het nie. Clara was egter nie gespanne nie en die teenwoordigheid van talle onderwysers, asook meneer König, het al die hokkiespeelsters gerusgestel.

Ten spyte van al hierdie opwinding meen Nina Mostert (graad 11), o.17-hokkiespeelster, dat Wits se sportgronde nie ‘n veiligheidsgevaar vir Helpies inhou nie. Clara Pretorius gaan akkoord hiermee en sê dat sy nie bedreig gevoel het deur die Wits-studente tydens die proteste nie.


Comments


Saam

het ons

in hierdie
uitgawe

mekaar

Mees Onlangs
bottom of page